top of page
  • Uitmelkbos

LEKKERBEKKE EN LIEGBEKKE

Die flambojante Louis Luyt en die ewe flambojante koerantman Jack Viviers was maatjies, wat in die jare 70 gereeld ‘n voortreflike skaapsaaltjie (“saddle of lamb”) saam geniet het in Luyt se deftige kantoorsuite in Aucklandpark,Johannesburg.

 Een keer het Jack my saamgenooi.  Ek was toe nuusredakteur by Beeld en Jack die tweede-in-bevel. Hierdie Vrystater se oë was soos pierings oor al die weelde, elegansie en styl – onder meer die voorste landgoedwyntjie in die duurste kristal en ‘n kelner uitgevat in witter as wit, wat vooraf kom verneem presies hoe gaar of ongaar elkeen graag sy vleisie op die bord sal wil hê.

 Louis en Jack se nostalgiese stories oor verre lande – en veral die top-restaurante van verre lande –  het my ietwat ontuis in daardie geselskap laat voel.  My buitelandse ervaring was in daardie stadium beperk tot ‘n vlugtige besoek aan Duitsland op uitnodiging van Lufthansa en ‘n Europesese toer, georganiseer deur die Bloemfonteinse reisonderneming Rontoer in samewerking met Die Volksblad.  Kulinêre belewenisse in die orde van die Luyt-Viviers-klas was ver buite my ervaringsveld.

 Nietemin, met smaak word oor die geurige skaapvleis toe ‘n spesiale kos-ekspedisie van my kollega en ons wellewende gasheer in herinnering geroep – ene wat begin het met ‘n goedige verskil van mening oor waar die beste “steak” ter wêreld geniet kan word.

 Jack se kandidaat, as ek reg onthou, was ‘n eetplek iewers in Buenos Aires.  Louis Luyt was adamant dat die lekkerste “steak” wat hy in sy dag des lewens geproe het, in ‘n restaurant in Sydney was.

 Jack was nie een wat maklik toegegee het as hy glo aan sy saak nie.

 Moeg van Jack se gekarring, speel Luyt toe sy troefkaart.  “Kom ek gaan wys jou.”

 Die twee is in Luyt se private straler vinnig oor Australië  toe, en direk na die restaurant in Sydney waar die forse Suid-Afrikaanse miljardêr nie eens die spyskaart hoef te raadpleeg nie. Hy weet presies wat hy soek en wat hy sy joernalis-gas wil laat proe.

 “Erken nou,” het Luyt aangedring toe hulle mes en vurk neersit.  “Moet erken,” het Jack toegegee terwyl hy sy servet toevou.

 Toe’s hulle lughawe toe waar die straler gereed gestaan het vir die lang vlug terug na Johannesburg. .

 Ware storie?  Ek twyfel nie. Jy kon baie dinge van Louis Luyt en Jack Viviers se. Jy kon nie sê daardie twee lekkerbekke is liegbekke nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page