top of page
Uitmelkbos

LEKKER VAN KARRE WEN

Survivor-programme op TV trek my nie, en ek kan my dus nie uitlaat oor die wenners en verloorders nie. Het hierdie een of daardie een vuil gespeel of nie? Op sijn goeie Latyns: non flocci facio – ek gee nie ‘n duit om nie.

Is dit eties dat deelnemer Okkert Brits se vrou ‘n motor in ‘n kykerskompetisie gewen het? Sal nie kan sê nie, want ek weet nie hoe steek die vurk in die hef nie.

Die klein opskuddinkie herinner die uwe egter aan hoe lekker dit is om karre te wen, en ook oor hoe amper hy – oor iemand anders se misplaaste sensitiwiteite – ‘n motor kwyt was wat hy fêrplie gewen het.

Alles het begin met ’n motorwedstryd van die Vrystaatse Nasionale Party, ter viering van dié se vyf en twintigste bewindsjaar. ’n Deftige maroen 1973-Dodge SE met ’n ligbruin vinieldak was die eerste prys. Ek skryf toe in op Tokkie se naam.

Deelnemers moes ’n limeriek voltooi wat soos volg lui: Vir vyf-en-twintig jaar ’n wakker Party wat gereeld die Opposisie met mening kasty – Nasionaal is sy naam, hy kan baie hard slaan taradam, taradam, taradam.

My slotreël (namens Tokkie) was: “Soos die vuisvose Sappe met verdriet moet bely!” Dit wen vir haar die Dodge.

Eers later het ek gehoor van die intrige toe die uitslag by Piet Aucamp, hoofsekretaris van die N.P., uitlek. Hy het gemeen dat die nuusredakteur van Die Volksblad se vrou die wenner is, sou dit laat lyk na ’n gekookte besigheid. Hy wou opsluit ’n ander wenner hê. Gelukkig het prof. Carel van Heerden en sy span beoordelaars vasgeskop.

Hulle het volgehou die wenpoging het die beste verband getoon met belangrike elemente soos opposisie, kastyding en hard slaan, wat ’n deurlopende draad vorm. Ook uit ’n verstegniese oogpunt had dit meriete. Alles was dus bo verdenking. Gelukkige einde.

Ai, dit was ’n kar duisend wat oral aandag getrek het en meer as een keer as bruidskar moes dien. Maar kon hy petrol sluk! Teen vandag se petrolprys sou dit ’n fortuin gekos het om die Dodge op die pad te hou.

Die storie het eintlik nog ‘n gelukkiger einde.

Met die maroen Dodge veilig in ons motorhuis in Kmdt. Senekalstraat, Bloemfontein, is ek aangestel as eerste nuusredakteur van Beeld, die te stigte Naspers-dagblad in Johannesburg. Begin April groet ek toe Die Volksblad en vertrek dadelik op ’n studiereis van vyf weke na Londen.

Een aand het ek en kollega Chris Moolman van die Londense kantoor ’n afspraak. Chris kom by die Charing Cross-hotel aan met die vraag: “Wat gaan jy met die kar doen wat jy gewen het?”

“Nee, ons ry hom,” antwoord ek.

“Albei?”

Eers toe snap ek daar is weer goeie nuus. Dié keer was die wenmotor ’n 1974-Valiant Charger, die eerste prys in ’n wedstryd van die Vrystaatse Universiteit. Ek het op my seun Johan se naam ingeskryf.

Die driejarige knaap stap toe met die tweedeur-Charger weg en op die foto’s lyk hy nogal heel in sy noppies agter die stuurwiel.

Om te wen, moes ’n mens die beste rede gee waarom jy graag die betrokke motor sou wou besit. Ek het (namens Johan) in rympievorm geantwoord: Hy’s vir die oog ’n fees en so sterk soos ’n bees, Dis waarlik ’n spogwa om trots op te wees!

In Naspers-koerante was daarna berigte met opskrifte soos: “Twee motors gewen binne ses maande!” en “Koerantman wen twee motors”. In die berigte is daarvan gewag gemaak dat die twee nuwe motors saam meer as R9 000 werd is. Goeie ou dae!

Hoe ook al, ek het nog nooit weer soveel geld vir so min skryfwerk verdien nie.

Dikwels moes ek daarna hoor hoe “gelukkig” ek dan is. Nou nie juis die toonbeeld van nederigheid nie, was my respons altyd dié van Gary Player oor sy suksesse op die gholfbaan: “Hoe meer ek oefen, des te gelukkiger word ek!

Dalk is dit maar met Survivorwenners ook die geval!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page