Onder die radar, deur Dana Snyman. Resensie: Resensie: Charles Smith (Boeke24) Baie resensente het al probeer om te beskryf presies wát die essensie van Dana Snyman se bekoring is. Min het dit nog reggekry soos Charles Smith: “Hy is die argeoloog wat met sy soeklig in die grot soek waar die Afrikaanse denkpatroon vir dekades geheers het – en nou verdwyn. Met sy pen lig hy die seil van die nuwe Suid-Afrika op en kyk wat ons was en dalk steeds is.” Genoeg om te weet of mens op dieselfde golflengte is as die resensent. Die res van die resensie is vir hierdie leser oorbodig. Netjies. Vir bewonderaars soos ek. Maar ek kan my indink dat daar lesers sal wees wat nie van Snyman se soort weltschmerz hou nie, en sal voel dat dit tyd is dat Snyman krities bespreek moet word.
Moord-en-roof: In die kop van ’n baasspeurder, deur Albert Blake. Resensie: Amanda Roestoff. (Boeke24) “Nie sommer enige ou gaan hiervan hou nie,” sê Roestoff. Nou ja, mens kan dit seker ook sê van boeke oor snydokters , vuilisverwyderaars en die verpleërs van terminaal siekes. Die punt is seker tog dat die skrywer dit regkry, of nie regkry nie, om in ’n tyd waarin die Suid-Afrikaanse polisiediens met agterdog en openlike minagting bejeën word, ’n boek te skryf waarin die gesonde kern van dié diens beskryf word. Blake fokus op Charles Miller, ’n speurder wat Piet Byl na die kroon steek – en waarskynlik sal wen ook. Roestoff se resensie bevat ’n element van verleë wees oor die smetterige terrein waarop hierdie geregsdienaars hulle moet begewe, en sy as joernalis ook, maar die resensie self dien uitstekend in sy doel.
’n Plan is ’n duineboerdery, deur Louw van Schalkwyk, oorvertel deur Ann Hiemstra.Resensie: Amanda Botha (Rapport Boeke) Eintlik ‘n lekkerlees-artikel hierdie, eerder as ’n resensie. Amanda Botha is ’n gesoute joernalis, en die manier waaop sy hierdie boek en sy inhoud hanteer, is vol warmte en deernis, en ’n groot liefde vir die kontrei waaroor die boek handel. Sou ’n kritiese resensent dit anders benader het? Moontlik – maar’n mens moet sekerlik ook in ag neem dat Botha daardie keuse kon gemaak het voordat sy geskryf het, en dat haar jare se ondervinding deurslag gegee het.
Comments