top of page
  • Izak de Vries

Legwarmers, Dakkappe, Bier en Kuns

Goed. Ek skuld julle ’n antwoord.

My siening is dat kuns twee goed moet doen:

1. Kuns moet my anders laat kyk na iets. Of dit Dada is, of dit realisties is, ek wil gestimuleer word om nuut en vars na die objek, of situasie, te kyk. (Een van my karakters praat hieroor in die kortverhaal “Na aanleiding van ’n soen vir Twombly” in Byna liefde. As julle belangstel om meer oor hierdie insident rondom Twombly te hoor lees Coenie K se stuk en volg die skakels.)

2. Kuns moet die skaduwees kan invul. Kyk hoe baie beeldende kunstenaar kan glad nie hulle skaduwees regkry nie. En dit geld vir stories ook. Dis daardie balans. Dis daardie soeke na ’n realisme wat nie altyd in ’n “realistiese” prentjie vasgevang kan word nie. Ek is self gatvol vir donker, somber goed. Maar om die wêreld sonder skaduwees voor te stel, is vals. (Fotograwe pes skaduwees. Ons skep dikwels vals beelde met bonsflitse om skaduwees te verdoesel. Maar dis ’n ander onderwerp!) Selfs Picasso het in sy wildste tye donker realismes vasgevang...

Maar:

Ek wil dit ook baie duidelik stel: Ek weier om ’n waarde-oordeel te plaas wat kuns beter maak as vakmanskap of vakvrouskap. Ek stem saam met die prinses as sy sê: Miskien is geblomde legwarmers iets wat ek sal miskyk op 'n kerk bazaar, maar iemand se ouma het dalk ure aan die breipatroon beplan, en moes telkemale verlore steke optel, versigtig versigtig om dit perfek te kry.

Ek werk deesdae baie nou saam met mense wat houtwerk en bouwerk en loodgieterwerk doen. Hulle werk is hulle passie.

Ek weet – uit hoofde van my werk – hoe baie ’n loodgieter moet weet voor sy / hy kwalifiseer. Of, watter dik dokumente iemand moet bemeester voor sy / hy ’n stuk steierwerk mag oprig. En glo my, daardie SANS-kodes is vrek moeilik om te verstaan.

Dus? Terug na die legwarmers. Stal hulle uit op die skou. Daar sal ander tannies wees wat spanning gaan toets en die en steke gaan tel. Dis hoekom dit moontlik is om pryse toe te ken aan legwarmers. Ek kan nie legwarmers vir pryse brei nie. Ek skryf dus maar.

Oor Kenneth Newman. Hy’t ’n besondere talent gehad. Dit verg uiterste vakmanskap om so te kan teken. En, glo my, Kenneth het in een maand meer boeke verkoop as wat ek in my lewe al verkoop het. Hoekom? Ek, wat talle van sy boeke het, waardeer daardie wonderlike sketse. Sonder Kenneth Newman sou ek nie vandag voëls geken het nie. (Ek dra deesdae Newman en die Sasol saam as ek veld toe gaan, maar Newman het my gehelp om mossies van vinke te onderskei.)

Ek was egter werklik benoud oor die “kuns” in my fotografie. Soos vir legwarmers is daar talle goed wat jy kan ondersoek en dan ’n prys toeken met ’n foto. Ek is mal oor wildfotografie, het al joernalistieke werk gedoen en is ’n kranige mensfotograaf. Ek moes egter gaan raad vra oor hoe om voor te lê vir ’n “kunsveiling”, al het ek die tegniese vaardighede om pryse te wen met kiekies (het al). Dis egter een ding om tegnies korrek te wees, en ’n ander ding om bekend te wees met die nuutste verwikkelinge in die kuns.

My vraag was dus meer as net ’n klip in die bos. Ek wou graag hoor wat ander sê.

Ongelukkig het ons in Suid-Afrika ’n nuk om kunstenaars laer te ag as sportlui.

Dis egter soos legwarmers. As ons bereid is om te weet hóé om legwarmers te brei, sal ons kan saampraat.

As ons bereid is om te lees oor die reëls van rugby, sal ons kan saampraat (en juig as die sh ... okay, ek is op dun soutwater!)

Dieselfde met kortverhale, gedigte, romans en skilderye. Dis jammer dat ons so min oor kuns saamtrek en opgewonde raak oor skilderye, gedigte en legwarmers. Of dakkappe.

Klim ’n bietjie deur daardie gaatjie (voor die rugby en die bier) en kyk hoe slim is daardie goed gebou. Kyk dan die rugby en gaan koop ’n bundel gedigte. Daardie bundel kos minder as ’n rugbykaartjie!

Dankie vir die saamgesels.

2 views

Recent Posts

See All

コメント


bottom of page