top of page
  • Uitmelkbos

LEEULOOP MET ‘N VERSKIL

Posted in Uncategorized at 2:56 pm by Administrator


Mense gaan Skukuza toe om na die diere te kyk. Net een keer per jaar word die rolle omgekeer. Dan verwonder die leeus, luiperds, olifante en wat nog hulle seker aan die toneel van 2 000 pompende mensebene – van baie bleek tot pikswart – as 1 000 hygende atlete verby draf.

Die groot okkasie van elke eerste Saterdag van Augustus is Skukuza se halfmarathon. So tussen al die gevaarlike diere deur. Dis nogal ‘n aardigheid om die gewapende “beamptes” met hul R1’s en 458’s by elke kilometermerk aan te tref.

Maar ook geen wonder nie: voor die wegspring (met ‘n geblikte leeubrul) moes die helikopter en ‘n span veldwagters al ‘n trop buffels, ‘n renoster, leeus en ‘n luiperd van die roete afkeer!

Een jaar was daar geen wenner nie: die voorloper het hom trompop in ‘n trop leeus langs die roete vasgehardloop. Toe spring by eenvoudig op die bakkie wat die hardlopers vergesel. Ditto nommer twee, ditto nommer drie ….

Dit was nou vir jou ‘n leeuloop van ‘n anderster liga.

My en Tokkie se eerste Skukuza-halfmarathon amper tien jaar gelede (darem net as toeskouers!) het sonder só ‘n komplikasie verloop. ‘n Trop bobbejane het hulle egter boeglam geskrik vir die vreemde gesig. ‘n Hiëna het uit die bosse gekom, die spulletjie een verwarde kyk gegee en verkas. ‘n Vlakvark – “een geestige bees”, volgens n Hollander – het langs ‘n swetende drawwer ingeval. Toe moes jy hom sien versnel!

Die sowat duisend atlete word afgesit met die geblikte brul van ‘n leeu. Die atlete spring weg op die krieketveld in die personeeldorp. Hulle hardloop verby Lake Panic, wat deel van die gholfbaan vorm, dan al met die teerpad langs (rigting Skukuza) en uiteindelik ‘n draai deur die personeeldorp. Die hele Skukuza is in rep en roer.

Daardie oggend moet jy vroeg roer as jy by die hekke wil inkom. Atlete, jonk en koud, kapabel en nie meer so kapabel nie, sak van oral op die Kruger-wildtuin toe vir hierdie aardigheid.

Een van die flinke deelnemers in ‘n stadium was ons Skukuza-gemeentetjie se dominee, ds.

Carl Louwrens. Deesdae help hy ewe flink met die kerrie-en-rys. Sy gemeente, soos die skool, kleuterskool en andere het kraampies wat goed ondersteun word.

Die halfmarathon verdien almal se ondersteuning. Ook die Van Deventers s’ n. Só het ons daar en dan besluit. Dis ‘n lekker okkasie met ‘n kermis-atmosfeer. Ons woon dit nie net by nie. Tokkie help op Tarlehoet se beskeie gasstofie vleis en rys gaarmaak .

Vanjaar het dinge so uitgewerk dat ons die eerste naweek van Augustus al terug is op Melkbos. In die gees sal ons egter Saterdagoggend op Skukuza wees as die geblikte leeu brul …..

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page