top of page
  • Uitmelkbos

LEER LAG-LAG UIT DIE WOORD

Nie vir suurknolle nie – so sou ‘n mens ook ons Woensdagaand-Bybelstudie kon tipeer, wat in die kerk se Nuusbrief as “‘n gesellige, informele, sielsversterkende uurtjie om die Woord” aangedui word.

Vir ‘n lojale groepie seniors, wat die leraar (dr. Francois Hanekom) se aanbieding, atmosfeer en mekaar se geselskap klaarblyklik geniet, is Woensdagaande in hul dagboeke groot gemerk.

Hulle bly nie sommer weg nie – al huil die Suidooster hier op Melkbos, of die dryf die Noordwester gietende reën oor die loodgrys see aan.

Frons iemand? Nee, ontspan maar, die uwe is self ‘n tradisionalis wat t.o.v. die erediens aan orde en gewydheid waarde heg. ‘n Mens gaan nie kerk toe om “lekker te lag” nie, soos ek al gehoor het. Humor by Bybelstudie sien ek egter in ‘n ander lig.

As ‘n mens kan lag om die Woord – en alte seker kan jy – is die Bybelstudie seker een van die aangewese plekke. Saam met die vrolikheid word kosbare Skrifwaarhede tuisgebring.

Ons is met Spreuke besig en ontleed o.m. die verskynsel van groepsdruk, wat veral jong mense, maar ook oueres, soms tot allerlei onheilighede meesleur. ‘n Swartlandse boer kom met ‘n buitengewone voorbeeld van sulke druk.

Toe hy op ‘n buurdorp diaken word, was hy bra lugtig vir in die openbaar bid, deel hy mee.

Twee keer het hy sy ongereedheid te kenne gegee. Toe word hy voor ‘n keuse gestel: of jy bid of jy gee die hoofdiaken ‘n bottel KWV Laasgenoemde kon hy nie bekostig nie. Toe bid hy.

“Dis nie groepsdruk nie, dis afpersing,” laat hoor iemand.

O, onthou iemand anders, maar dit is mos die einste gemeente wat by geleentheid tweede in die Ring was met drankverbruik. Toe paai ‘n ouderling die nuwe leraar: “Dominee, moenie bekommerd wees nie. Hier hou ons nie van verloor nie. Volgende jaar sal ons bo wees.”

Steeds by Spreuke, word lekker gesels oor mense wat net boekekennis het, teenoor diegene wat self deur die meule gegaan het. Manlike ginekoloë kom ter sprake. Een van die groep onthou toe die storie van ‘n studentemaat wat, as deel van sy praktiese opleiding, sy eerste bevalling saam met ‘n klasmaat sou bywoon.

Dinge begin gebeur en die klasmaat word gestuur om die ginekoloog te gaan roep. Tussen begin die maat effe duiselig raak van die nuwe ervaring. Hy word aangesê om op ‘n stoel te gaan sit met sy kop tussen sy knieë. Die klasmaat kom terug met die ginekoloog, sien die ou so sit en gaan val langs hom in in dieselfde posisie. Na ‘n ruk skud hy aan hom: “Dink jy ons kan nou maar begin kyk?”

Ook skoolinspekteurs kom ter sprake. Dit ontlok die storie van die inspekteur wat by ‘n klas wou weet wie het die mure van Jericho afgebreek. Almal ontken skuld. Later kla die inspekteur by die hoof oor die klas se onkunde. “Haai, meneer, ek weet ook nie,” bely die hoof, “maar kan ons nie maar net ‘n kwotasie kry en dit laat regmaak nie?”

Miskien moet ek ‘n “Tamatiestraat Merk 2” aandurf. By die Bybelstudie sal ek bepaald ‘n klompie stof daarvoor kry!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page