Kyk, ek is nou nie Leon van Nierop nie, en is waarskynlik vrotterig toegerus om oor flieks se meriete of gebrek aan meriete te oordeel. Maar ek het tog kans gesien om mense hier sterk aan te raai: Gaan kyk na “Unstoppable”.
Daarom gaan ek ook ‘n uitspraak hier waag oor die Afrikaanse musiekprent “Liefling” (die “eerste in 30 jaar”) Mense gaan van my verskil en kan maar met my raas oor my opinie. Ongelukkig moet dit van die hart: “Liefling” is vir my, ná al die verwagtinge wat geskep is (van Kwêla tot Pasêlla is uitasem saam op die reklamewa), so vervlietend soos spookasem.
Die tema is papierdun, die karakters sonder diepte, die storie te soetsappig en die verloop werklik te voorspelbaar – “boy meets girls, boy nearly loses girl, boy gets girl”. En goeie aarde, is ons nog nie verby kussinggevegte met vere wat in alle rigtings trek en roomterte in die gesig nie?
Laat my darem ook ‘n woord van lof spreek. Vat dit van ‘n ou oom met ‘n kennersoog oor die skoner geslag: daardie Lika Berning (die dogter van Jana Cilliers) is ‘n wenner in die titelrol – pragtig, ongekunsteld, sprankelend, eg. Bobby van Jaarsveld is plek-plek ‘n heel innemende Jan. Die rolverdeling spog ook met ander mooi mense (o.a. Sonja Herholdt, Anna Davel en, uit ‘n fotogeniese hoek, ook Marlee van der Merwe, al is haar karakter, die bose Melanie, so kunsmatig soos ‘n plastiekblom).
Die sterre doen dapper en entoesiasties hul ding teen mooi agtergronde wat mooi gefotografeer is langs die Hartebeespoortdam en in Switserland. Maar, jammer, saamgeflanste mooi toneeltjies is onvoldoende vir die suggestie dat “Liefling” op die spoor kan loop van “Hoor
my Lied”.
Moet dit liewer ook nie in dieselfde asem probeer noem as “Mamma mia” nie.
Verskeie tonele is duidelik aangelas om geen ander rede nie as om bepaalde liedjies en bepaalde kunstenaars te akkommodeer. Carike Keuzenkamp se “Hoeka, Toeka” met haar in die uniform van ‘n verkeersinpekteur of iets, en later agter die wiel van ‘n ou tjor – wat soek sy
daar? – is ‘n verleentheid.
Al het jy verwag (of geweet) Kurt Darren se “Kaptein Span die Seile” moet die een of ander tyd kom, word dit so aan die hare ingesleep dat jy moet grynslag. “Katryn, Katryn” met drie jong mans al dansende om die permanent benewelde Katryn (Sylvaine Strike) op die dek van ‘n plesierboot was pure “candid camera”.
Sekere tonele hou aan en aan. Jan se uitgerekte selfondersoek voor die spieël het hierdie kyker laat vrees die projektor het dalk vasgehaak. En dan daardie slot, met die twee verliefdes wat op die brug bly rondomtalie soos twee opgewende tolle. Het die arme kinders nie dronk in die kop geword nie?
Oor die radio het die fliekmaker vertel die 24 liedjies waarop die storie “gebou” is, is ná ‘n seleksieproses as die publiek se gunstelinge geïdentifiseer. Nou-ja, goue oues duik op wat ongetwyfeld die hartsnare sal roer. Maar totaal onbekendes maak ook hul buiging met yl woorde en yler deuntjies. Die ene oor die “feksmasjien” (om vir ‘n nooi liefdesversies te “feks”) is ‘n sprekende voorbeeld. Van waar, Gehasi, en wie se gunsteling nogal?
Laetitia Pople het in ‘n resensie in “Die Burger” vir “Liefling” ‘n beskeie twee sterre gegee. Ek het eers gedink sy is dalk te “opstêrs”. Nadat ek “Liefling” gesien het, is Laetitia se goeie oordeel by my bo verdenking.
Ekskuus, maar eerlikheid is tog verkieslik bo die heuningkwas, of nie?
Comments