top of page
  • Uitmelkbos

LANK-ONTHOU-SKOENE


Ek vermy ‘n oordeel; wil nie oor die vingers geraps word nie: “Skoenmaker hou jou by jou lees!”

Die onderwerp van skoene is egter fassinerend. Ek dink dadelik aan Eddie du Plessis se skoene. Hy is terloops die man wat die uitstekende opskrif “Die sool is die kous nie werd nie” geskep het bo ‘n berig oor Russiese weermagskoene wat nie die mas opgekom het nie.

Sy eie dappers en stappers (outydse DKW’s vir Diens, Kerk en Werk) het Eddie ‘n keer in die 70s met ‘n motorbekendstelling (die ou Zephyr en Zodiac ) in die Royal Swazi Spa in die spesiale nissie geplaas om gepoets te word. Toe ons die volgende oggend moet ry, is die skoene skoonveld. ‘n Hele vertraging terwyl almal soek en raas.

Uiteindelik kry Eddie sy skoene: in die nimlike nissie – netjies gepoets. Ek onthou sy skaapagtige grinnik. Maar oor Eddie se vergissing hou ek liefs ook my bek. Die Indiane maan mos jy moet niks sê as jy nie in ‘n ander man se mocassins ‘n myl gestap het nie.

Skoene laat my dadelik dink aan Aspoestertjie en die glas skoentjie, aan Nancy Sinatra se liedjie “These boots are made for walking” en aan Elvis se “Blue suede shoes”. In vele liedjies en flieks is skoene ter sprake. Allerhande skoene: modieus tot verslons, plat of met hakke soos stelte. Selfs ‘n goue pantoffeltjie duik mos iewers op.


Moderne aspoesterskoentjie

In die fliek “The devil wears Pradas” was sprake van die “hell on high heels”. Van Ginger Rogers, weer, is bewonderend gesê sy kon elke passie van haar dansmaat, Gene Kelly, ewenaar, maar boonop agteruit en op spykerhakke! Dis ‘n kuns waarvoor ek my ou skoene agterna gooi.

Vele vroue (en mans) is versot op skoene. Eva Peron (met haar berugte pelsskoene) en Imelda Marcos (met haar 3 000 pare) was maar twee van die beroemde vroue wat buitensporig skoen-behep was. Nicolae Ceausescu, ‘n vorige diktator van Roemenië (voor ‘n vuurpeleton geboet vir sy wandade), had glo ook ‘n skoen-obsessie. Na bewering het hy skoene net een keer aan sy voete getrek. Daarna moes sy butler dit verbrand sodat niemand anders dit kan dra nie.

In ‘n ander se skoene kan jy nie klim nie, maar een skoenstorie is in hierdie verband nogal vreemd relevant: Van die ou wat gekla het dat hy nie skoene het nie; toe sien hy iemand wat nie bene het nie.

Tokkie is gelukkig nie ‘n skoen-verslaafde nie. Goeie skoene kos deesdae ‘n pakkie. Maar sy raak nie graag van getroue ou diensknegte ontslae nie – iets wat ekself nogal verstaan. In my kaste hier en in Sabiepark is hope skoene opgestapel wat ek nooit meer aantrek nie – van baie basiese vellies tot Italiaanse blinkleer (darem nie gryses nie!).

Maar ek voel sentimenteel oor ou skoene. Onthou met deernis en nostalgie my eerste paar rugbystewels. Ook my eerste (en enigste) paar krieketstewels. Selfs my eerste naelloop met geleende spykerskoene.

Skoene duik nie net op in allerlei stories, liedjies en flieks nie. Ook in die wêreldgeskiedenis.

Die joernalis Muntather Al Zaidi het in woede sy skoen na George W. Bush gewerp oor die Amerikaanse inval in sy land, Irak. Iewers gelees dit was die eerste (openbare) insident waar ‘n skoen as wapen – nogal as missiel – aangewend is. Die kwalifikasie is ongelukkig nodig. Vermoed verskeie mans het al die kous oor die kop gekry met ‘n harde kap van ‘n skoen deur ‘n verwoede eggenote.

Nikita Chroesjtsjof, Russiese president, se skoen het ook die geskiedenisboeke gehaal. Hy het in 1960 by die VN in New York in protes teen ‘n toespraak van die Filippynse afgevaardigde sy skoen uitgepluk en daarmee op die lessenaar voor hom gehamer.

Die spreekwoord lui: As die skoen jou pas, trek dit aan. Toe doen Chroesj net mooi die teenoorgestelde. Hy trek dit uit. Russe kan mos maar stroomop wees!

(Naskrif: Verpleegsters met rooi skoene het, volgens my ervare vriend Johan van Wyk, in ons dae die lekkerste gevry!)

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Kommentare


bottom of page