Raak ons wild min weens onbeheersde stropery? Vind ‘n ander onheiligheid dalk plaas, soos georganiseerde jag?
Sulke kampvuurdebatte is in die Kruger-wildtuin nie nuut nie, het die laaste jare in intensieit toegeneem, en is vanjaar besonder lewendig.
Party Wildtuinebesoekers het hierde winter al vele kilometers agter die blad sonder om iets noemenswaardigs te sien. Ook die uwe was al gefrustreerd.
Op die pad tussen Skukuza en Onder-Sabie was ons egter Maandag gelukkig. Twee luiperds vlakvoor ons, ‘n renoster wat by die rivier staan en drink, drie troppe olifante en ‘n buffel in die water het vir genoeg opwinding gesorg. Slegs koning leeu het ontbreek om die Vyf Grotes op een oggend vol te maak.
Naby Onder-Sabie het ons selfs ‘n eland onder ‘n boom sien koelte soek. Ja, ‘n eland! Wat hy daar kom soek het, weet ek nie.
Die eerste luiperd het ons die oggend tussen die Nkuhlu-piekniekplek en Onder-Sabie gesien. Hy het voor ons oor die pad gestap. Die tweede het ons die middag naby die Krugerhek raakgeloop.
Hy was klaarblyklik op jag. ‘n Troppie rooibokkies het trillend hul besef van die gevaarlike teenwoordigheid te kenne gegee.
Die foto hierbo is van nommer twee. Nommer een sou bepaald ‘n beter foto opgelewer het, maar om die een of ander rede het ek nie my Canon uitgehaal nie.
Spyt kom altyd te laat!
Comments