top of page
  • Uitmelkbos

LANGBOOMPIES TOE VIR ONWAARSKYNLIKE KUPIDO


Die ienks van 1962 van Tukkies se Kollege-tehuis word deur huisvoorsitter Hennie van Deventer toegespreek. In die bedremmelde groepie is o.a. Dirk du Toit.

Een middag, vroeërig in 1962, stap die huisvoorsitter van Kollege-tehuis op die Tukkie-proefplaas ewe vernaam in die lang gange van die eerstejaars-vleuel af. Almal moet hul meisies se foto’s uithaal en wys. Die kommentaar was nie bedoel om ienk-ego’s te streel nie.

‘n Eerstejaar in Ingenieurswese, Dirk C. du Toit (latere regsprofessor en Adjunk-minister van Landbou in die ANC-regering) diep ‘n foto’tjie op van ‘n vrolike skoolmeisie met ‘n sonkyn-glimlag. “Pure kind,” is die bevinding. “Maar h’m, ‘n oulike kind. Wat sien sy in ‘n vent soos jy?”

Min het ek geweet ek kyk op daardie oomblik na die gesiggie wat oor ‘n tydperk van amper 50 jaar my foto-albums – en my lewe! – sou oorheers: Tokkie van Wyk, gedoop Gesina Susara, ‘n mooi en talentvolle Bultfonteinse meisie.

Min het ek geweet dat Dirk instrumenteel sou wees in my en Tokkie se ontmoeting twee jaar later op n partytjie in Bloemfontein by sy ouer broer, Ben, wat ‘n kollega by Die Volksblad was. Kupido Dirk – dit was nogal onverwags!

Min het ek ook geweet dat ek en Tokkie, na heelwat wik en weeg, op ‘n grys Vrydagmiddag, 5 Junie 2009, in ‘n leërige Groote Kerk in Kaapstad ter herdenking van daardie ontmoeting die semi-staatsbegrafnis van die nimlike Dirk Cornelis du Toit in die teenwoordigheid van ‘n sprinkeling van sy ANC-“comrades” sou bywoon.

Tokkie (kort vir Tokkelossie, haar pa, Kotie, se naam vir haar omdat sy so ‘n kortetjie was) was in my primariusjaar in standerd nege, ‘n kranige pianis met ‘n string Unisa-sertifikate en diplomas agter haar naam (o.m. Klavier, finaal, met eervolle vermelding). Dirk wat van Boshof gekom het, was ook ‘n doring op die klavier.

Tokkie en Dirk se paaie het op n piekniek op Maselspoort en daarna weer by die Bloemfonteinse Kunswedstryf gekruis. Hul gemeenskaplike liefde vir die klavier het ‘n band tussen hulle gesmee wat op n “skoolkys” uitgeloop het.

Dirk het matriek aan die Hoërskool Boshof met ‘n string onderskeidings geslaag en het toe Tukkies toe gekom om Ingenieurswese te “swot”. Sy klavierspel was iets besonders en hy moes heel dikwels vir Kollege-tehuis se seniors uithaal en wys. Ongelukkig het hy die Menere vervreem toe hy — weens akademiese redes nogal! — weier om op Lentedag sy koshuis te gaan verteenwoordig met sy gevoelvolle vertolking van die destydse treffer “Tell Laura I love her”.

Dirk was nie gelukkig op Tukkies nie; nie as ienk in Kollege nie en ook nie as student in die Ingenieurswese nie. In 1963 is hy Kovsies toe om in die regte te studeer. Aan die nuwe alma mater sou hy later ‘n regsprofessor word.

‘n Jaar later, in 1964, het Tokkie na die Bloemfonteinse Onderwyserskollege gekom. Ek was toe parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. Ben — ook later ‘n regsprofessor, aan die Universiteit van Zoeloeland — was my kollega. Ben nooi my een aand na ‘n partytjie. Daar sien ek toe die nooientjie op die foto die eerste keer in lewende lywe. Sy is deur Dirk genooi.

Die skamerige standerd-agt-meisie het intussen ‘n sprankelende eerstejaar-student geword – ‘n meisie om wie die jong manne draai .’n Week later was ons eerste afspraak – ‘n middaguitstappie na die restaurant op Naval Hill. Vir Kersfees is ek Bultfontein toe. ‘n Paar maande later kom kuier sy in die Kaap saam met my ouers in die parlementêre Paasreses. ‘n Jaar later, op haar twintigste verjaardag, 15 Maart 1966, steek ek ‘n verloofring aan haar vinger. Op 31 Desember 2008 was ons 42 jaar getroud.

Toe Dirk onverwags op 65 sterf, was ons aanvanklik onseker of ons begranis toe moet gaan. Ten einde laaste het ons besluit: as dit nie vir Dirk was nie, het ons nooit by mekaar uitgekom nie – “for better or for worse” Tokkie had buitendien ‘n groot bewondering vir Dirk se ouers, Oom Sarel en Tant Miem.

Die begrafnis was allesbehalwe opbeurend. Die roubeklaers was hoofsaaklik ANC-liede, onder andere die adjunk-president, Kgalema Motlanthe, wat die woord gevoer het. N’kosi Zikelelel I’Afrika is sonder begeleiding gesing en ‘n “struggle”-lied is aangehef.

Die wit gesigte was skaars: Dirk se vrou en drie dogters, een skoonseun, Marthinus van Schalkwyk, Renier Schoeman, ek en Tokkie en ‘n paar ander. Ben was nie daar nie. Ook nie Dirk se suster, Helena, of sy drie kleinkinders nie.

Dit was ‘n eensame begrafnis, was ek en Tokkie dit op pad huis toe eens terwyl die reëntjie neersif. Die arme Dirk was vervreem van sy eie mense. En die ANC-brigade wat uit lojalititeit teenoor die Afrikaner-oorloper kom afskeid neem het – hoe gou gaan hulle hom nie waarskynlik vergeet nie?

Maar ek is nie spyt ek het gegaan nie – al was dit ‘n vreemde geleentheid en al het Afrikaans skaars gefigureer (hoewel Oom Sarel ‘n onderwyser en dosent in Afrikaans was). Deel van Dirk du Toit, die wegloperkind, se laslappie-nalatenskap was immers dat hy my en Tokkie by mekaar gebring het. Hoe anders kon ons lewens nie verloop het as daar nie iemand soos Dirk Cornelis du Toit was nie!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page