top of page
  • Uitmelkbos

LANGBOOMPIES TOE


Veertien jaar later is 40 persent dood.


Dis puur en simpel ‘n nare gewoonte om op ou foto’s te tel hoeveel gesigte al weg is langboompies toe.

Op 70-jarige leeftyd raak die kappery in jou bos bepaald onheilspellend. Moenie na jou eie baba- en kleuterforo’s begin kyk nie – dan skrik jy oor hoe allenig jy op hierdie aarde oorgebly het!

Selfs van my matriekklas, die kalwers van 1957 by Potch-Volkies, is seker al goed ‘n kwart van die 81 reeds oorlede. Veral na 2007 toe ons goue jubileum gevier het, is die ou bome vinnig omgedop.

Om die een of ander rede ag ek dit my somber plig om as ‘n soort nie-amptelike scriba my klasmaats oor nuwe sterfgevalle ingelig te hou. Op dié manier is selfs ‘n premature doodsberig oor ‘n meisie in ons klas, later die vrou van ‘n LV, al van my rekenaar af na vele ander skerms versprei.

Toe dit blyk dat my bron ietwat oorhaastig en dus onbetroubaar was, was ek natuurlik verleë, maar darem ook dankbaar dat dit een tydgenoot minder is voor wie se naam ‘n kruisie moet kom.

Hoekom dié onderwerp? Om die waarheid te sê omdat ek myself nie kon keer om te begin tel nie op die foto van die Suid-Afrikaanse Niemans wat in 1998 by Harvard die Goue 50 van die Nieman Foundation in Cambridge, Massachusetts, gaan vier het. Daardie foto was op 1 Oktober op my blog by die storie oor Zwelakhe Sisulu – een van ons.

Van die veertien op daardie foto (nommer 15 is ‘n Amerikaanse polisieman) is werklik ook al ‘n derde heen. Die vyf oorledenes is Aubrey Sussens, Tertius Myburgh, Louis Louw, Alf Ries, en Obed Kunene. Die prentjie is eintlik nog leliker. Van die eerste 25 Niemans (van 1961 af tot 1983 – enkele jare was daar meer as een) is 11 se kersvlammetjies al geblus.

Dit is natuurlik bogenoemde vyf plus Lewis Nkosi, Robert Steyn, Nat Nakasa, Percy Qoboza, Donald Woods, Aggrey Klaaste en Ameen Akhalwaya. Dit maak sommer ‘n diep snit in die hegte groepie wat in die goeie ou dae altyd elke jaar, danksy die gasvryheid van ons sogenaamde “Godfather”, Aubrey Sussens, in ‘n casino in ‘n buurstaat gaan “konferensie hou” het

Vandag se foto is geneem by die feesdinee die aand van 5 Mei 1998 in Harvard se enorme Memorial Hall. Die gesigte behoort aan die vyf Naspersers wat, danksy die direksie se vrygewigheid, destyds die verrigtinge saam met hul gades kon bywoon – ‘n fees.

Van die tien mense op die foto is vier oorlede: Alf Ries en sy eerste vrou, Maggie, Ton Vosloo se eerste vrou, Lorna, en Louis Louw van Die Burger. Veertig persent. Maar dat die syfer nie hoër is nie, is dalk eerder iets om oor dankbaar te wees.

Ek gee gewoonlik vir my vrou, Tokkie, ‘n eerste loertjie in ‘n nuwe blog. Met hierdie een gaan ek dit nie doen nie. Sy sal ongetwyfeld daardie onmiskenbare misnoegde trek op haar gesig kry as sy nie hou van wat ek doen nie, en ek weet sy hou niks van hierdie morbiede gewoonte nie.

Maar nou het ek my optelsommetjies gedoen en nou weet ek. Nou’t ek weer rus vir ‘n rukkie. Rus julle vir altyd in vrede, kollegas.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page