top of page
  • Uitmelkbos

LAM-TIETIE, DAM-TIETIE

Wil nou nie ligsinnig wees oor ‘n saak wat nie ligtelik opgeneem moet word nie, maar ek stem: dit moet sekerlik bra ongemaklik wees as twee gewigtige aanhangsels jou gedurig suidwaarts beur.

Alle simpatie dus aan die dame wat in Huisgenoot kla haar “enorme EE’s” het haar teen die grond, as dit ‘n gelukkige uitdrukking in die omstandighede is. Begrip vir haar eggenoot ook wat uit edel motiewe bly lottokaartjies koop om sy “Aspoestertjie” uit haar penarie – uit die as as ‘t ware – te help.

‘n Knap chirurg met ‘n kreatiewe skalpel is ‘n klaarblyklike antwoord. Die Bybel draai immers nie doekies om nie: as iets jou pla, kap dit af. Dalk help die rondborstigheid van die Huisgenoot-ontboeseming tog om ‘n paar randjies vir die begeerde chirurgie te in – niks betaal immers soos ‘n goeie advertensie nie.

Dat die dame kla, is nie onverstaanbaar nie. . Maar dames kan oor die omvang van hierdie aspek van hul lywe nogal wisselvallige voorkeure hê, lyk dit. Het “advokaat Barbi” nie juis haar onvoldoende vooruitstrewendheid tot geil dubbel-D’s laat opbou nie? Die verskil tussen dubbel-D’s en E’s is waarskynlik, raai ek, net ‘n aks of wat.

Ag, meisie, dalk moet jy tog maar vrede vind. Ons almal het maar hier en daar ‘n ietsie (of het dit nie) wat ons graag groter of kleiner sou wou sien.

En jy’s tog darem nie helemaal so uitsonderlik soos Huisgenoot dit laat klink nie, dink ek – sonder enige binnekennis van die saak. In die kerk gewaar ek gister weer ‘n plaaslike suster (nie aspris op haar gefokus nie!) wat onder haar trui tekens vertoon dat sy dalk die lint sou kon breek as julle tweetjies in ‘n borsslag-stryd neus aan neus by die wenpaal sou aankom.

In die Kabinet en ander hoëprofielposte – selfs kaalbors voor hutte in allerlei “traditional villages” waarheen toeriste met bewende kameravingers en bonsende harte stroom – sit waardige kandidate vir die titel “Boob Baby” van Suid-Afrika of iets. My idée is nie gepatenteer nie. Anders as ‘n Barbara Joubert-resep is dit beskikbaar vir enigiemand, sonder vermelding van bron.

Laat my nie afdwaal nie. Wou nog opmerk dat die sensus waarin oor alles onder die son intieme besonderhede ingewin is, prikkelende inligting sou kon oplewer as ‘n vraag oor keël-groottes ingesluit sou wees (let op die umlaut, asseblief, ooms wie se hande nou onwillekeurig adamsappel se kant toe skiet). By Pep Stores en so aan word goeters bemark wat maklik vir hangmatte vir tweeling-babatjies verwar kon word. Pep gaan nie in vir produkte waarvoor g’n mark bestaan nie, glo hierdie verbruiker.

Met twee dinge oor hierdie swaarwigtige onderwerp het hierdien ou nogal probleme, en dit moet hy van die bors kry.

Die eerste is die vraag of dit regtig nuus is, selfs vir ‘n gesinstydskrif soos Huisgenoot wat hom uitgee as vennoot in alle verdrukkings, en wat oor uiters persoonlike kwessie soms verbasend openhartig kan wees. Ek lees daar was ‘n onstuimige debat tussen die meisies met die groot borste en die meisies met die kleintjies by Huisgenoot oor die storie: of dit moes in of uit. (Dink skielik aan die susters met die groot koeke wat die susters met die klein koekies die jaar by die kerkbasaar die loef afgesteek het, maar dis ‘n ander storie.)

Hierdie sonder-borstige (wel, ook nie heeltemal sonder nie!) sou my in die betrokke debat aan die kant van die groot-borstiges geskaar het. Mamma se tieties is nie saak vir die slaap- en badkamer, nie vir nuuskierige oe nie, glo ek uit die oude doos.

Punt nommer twee: meisie, jou versugting oor kanker en ‘n mastektomie is werklik daardie goed wat jy in ‘n perdestal kry as jy daar gaan vye soek. Die Groot K is nie plastiese chirurgie nie, poppie, maar ‘n verskriklike, verwoestende, verminkende, lewensbedreigende siekte.

(Ek sit nie ‘n foto by van die oortollige bates nie. Wil nie Huisgenoot se outeursreg skend nie!)

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Commenti


bottom of page