top of page
  • Uitmelkbos

LAG, LAG IN TAMATIESTRAAT

Die ganse wêreld is in Tamatiestraat soos nog nie in my lewe van 79 jaar nie.  My idioom is eintlik ‘n volkome eufemisme. Korona keil die wêreld op met ‘n venyn wat ons ergste nagmerries kwalik sou kon optower. Dit saai ontwrigting, ekonomiese ellende, siekte, hongersnood, dood …. op sy minste angs, stres en eensaamheid.

Half ironies dat juis in hierdie ernstige Tamatiestraat-dae my humorboekie Praat-praat in Tamatiestraat ‘n tweede lewe gaan kry. Die boek-boek (op papirus) is tien jaar gelede deur die ontslape uitgewer Griffel uitgegee. Kort daarna het Griffel gevou – darem nie weens my boek nie, hoop ek! Nou het De Novoboeke ‘n e-boek daarvan gemaak. Hierdie week maak hy sy buiging met ‘n voorblad wat my nogal plesier gee. Ek glo julle sal verstaan waarom.

In Tamatiestraat is’ n seleksie van (hopelik) humoristiese blogs/stories uit die HvD-stal, wat in die laaste jaar of drie hier, op my eie webwerf, www.hennievandeventer.co.za, op Litnet of in allerlei Media24-publikasies verskyn het.

In die boek is ‘n 70-stuks hoofstukke. Elkeen is bedoel om die lagspiere te prikkel. En moenie bekommerd wees nie: om te lag is ‘n “lewensnoodsaaklikheid”. Kraai maar dat die trane rol daar in jou geslote ruimtetjie – geen regulasie word oortree nie. Trouens, as jy my vra wat my wens vir die boek is, sal ek antwoord: dat hy in die mond van lesers ‘n nuwe titel kry – Lag, lag in Tamatiestraat.

Van die temas wat ontgin word, is die stuitighede by begrafnisse; die vuur en avontuur van opwindende laat liefdes; krom en skewe kommunikasie; dikvellige kuiergaste; mediese moleste, betjoinste boetebessies … noem maar op.

De Novo  noem dit ‘n “plesierige storiebundel” wat allerlei verleenthede, skades en skandes weerspieël wat die uwe in sy omswerwinge slagoffers sien en hoor oorkom het, of, helaas, self oorgekom het. ‘n Voorbeeld van die self-oorgekom-soort, is o.m. die Huisgenoot-storie van die buurtwag wat my en Tokkie, kaalbas in die bad, met sy priemende lig deur die badkamer verras. Dalk is daar mense wat nou nog daaroor tjie-tjie-tjie. Of oor Ouma se rooi nagrok wat so geheimsinnig uit die outehuis op romantiese uitstappies verdwyn het.

Ander se skades en skandes sluit in ‘n arme drommel wil ‘n einde maak aan alles – toe word sy “sterfbed” onder hom uit gekaap. n Entoesiastiese dame sonder ‘n draad storm met ‘n oorlogskreet op haar lippe swembad toe – en ontdek, tot in haar siel geskok, ‘n onverwagte toeskouer.

Vir diegene wat in die grendeltyd lus voel vir ‘n paar opgeruimde oomblikkies verwys ek graag na De Novo se Boekeblad. Laasi gerus Tamatiestraat af. Die adres is http://www.denovowebs.co.za/product/praat-praat-in-tamatiestraat/ Die boekie is spotgoedkoop, skaars ‘n middelslag bottel wyn se prys, en dié mag julle in elk geval nie nou koop nie.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page