Dis kleurryk soos “The Scream” waarop pas ‘n bod van R925 miljoen toegeslaan is.; dis van Tafelberg wat pas amptelik sy toetrede gemaak het tot die eksklusiewe lys van Wêreldwonders … en die beste nuus: ek sal dit sommer vir sommer honderd, twee honderd miljoen minder laat gaan as wat daardie geheimsinnige koper uit Katar bereid was om vir “The Scream” uit te haal.
Nie dat ek my vrolike Melbosse sonsondergang noodwendig wil verkoop nie. Hy hang goed waar hy hang in my eetkamer, met van die een kant die regte uitsig en die ander die uitsig op die doek hierbo. Maar as dit ‘n honderd miljoen of drie kan inbring …..
‘n Ou man kan nie neus optrek vir so ‘n vesterkinkie vir sy pensioen en die potensieel drastiese opwaartse kurwe in lewenskwaliteit wat dit kan meebring nie. Ek het, trouens, laasnag gedroom ek doen met my besonderse bergskildery ‘n “Scream”. Die koerante skree dit uit: “Grysaard oorweldig deur dermiljoene uit die bloute! Skreeue van vreugde op Melkbos!”
Die skilderes van my “dream scream”, een met ‘n Melkbos-adres, het volgens eie mededeling, een skemeraand met sonsondergang met ‘n bottel wyn op die stoep kom stelling inneem op wag vir die Muse. Of die kleureweelde van die Weskus-sonsondergang of die genot van die koue wyntjie die beste in haar skildery weerspieël word, is seker iets waaroor ‘n mens kan bespiegel. Maar dis onortodoks en flambojant, hoor.
Gelukkig is Tafelberg nou amptelik een van die nuwe “Sewe Wonders” – ek was een van die eerstes wat patrioties gestem het ondanks die misdadigheid in onse berg se klowe, wat die verwagte nuwe stroom toeriste tot lang krokodiltrane oor verlore beursies, kameras en ander goeters van waarde kan beweeg.
So tussen ons, sit ek nog met nog minstens vier ander (stemmiger) Tafelberg-weergawes teen my mure – een met ‘n boom hier op die strand van Van Riebeeckstrand, wat dit taamlik uniek maak.
‘n Voordeel van my vyf skilderye vir die ernstige koper van ons eie Kaapse ikoon is dat dit almal jonger modelle is as “Scream”, en dus langer behoort te oorleef. Die oudste – vir diegene wat hou van hul skoonheid gemeng met oudheid – dateer klaarblyklik van lank gelede, hoewel ek die datum nie kan ontsyfer nie. Die prentjie wys Melkbos nog as ‘n gehuggie. Die ander se jaartalle is 1986, 1996, 1997 en 2007. Splinternuut as ‘t ware.
Wil nou nie my rykword-veiling voorspring nie, dis tog opwindende as die botte so hoer by klim, maar as die stad Kaastad my sonsondergang privaat wil kom koop as logo vir sy nuwe “Wêreldwonder” kan ons gesels. Ek sal selfs oorweeg om te ruil: die ou Nuweland se grond vir my skildery.
Dan het die stadsraad met een slag ‘n logo wat die wêreld kan verower, en ‘n nuwe Nuweland in die “Vistenk” by Grangerbaai. ‘n Wen-wen-situasie. Ons almal lag op pad bank toe.
Commenti