Jack Slabbert (met die wit baadjie) op ‘n Volkie-atletiekfoto. Links van hom sit Piet (Vis) Jooste. Slabbert leef nog en woon in Preotoria. Jooste is, soos verreweg die meeste van ons onderwysers, reeds oorlede.
In matriek daag in 1957 daag ek een aand in Potch-Volkies se Jack Pauw-koshuis vir aandete op met ‘n elegante krawat pleks van ‘n das. Gaan trek jou ordentlik aan, gebied Jack Slabbert, ‘n koshuishoof.
“Ek is ordentlik aangetrek.” Dis harde woord op harde woord, en toe ek by die eetsaal uitstap, besluit ek: “Jack Slabbert, vir jou sal ek wys.” Ek gaan spring in my blou dubbelbors-Sondagpak.
Toe ek ge-das en ge-pak instap, dawer die eetsaal van die lag. Slabbert slaan sulke rooi vlekke uit. ‘n Nuwe woordewisseling ontstaan, en ek word weer die deur gewys om “ordentlik” te gaan aantrek. Maar toe ek hardekwas die tweede keer by die eetsaal uitstap, stryk ek sommer aan grootpad toe.
By die huis gekom, in Meiringspark, Klerksdorp – steeds in my dubbelbors – s my ouers klaar ongemaklik. Toe die koshuisvader kort daarna bel, word dit ‘n lelike saak. Pa laai my in die kar, ‘n 1948-Chev, en die hoof, dr. H.F.B. Muller, wag my in – lat in die hand. Toe’s dit sulke tyd.
Pak slae nommer twee val in die matriek-eindeksamen. Voor die laaste vraestel (Geskiedenis) kom ‘n gawe breuk, en ‘n paar van ons oordeel dis ‘n ideale geleentheid om te gaan fliek: Bill Haley en sy Comets in Rock Around The Clock — “One a clock, two a clock, three a clock, rock!” Buite wag die nimlike Jack Slabbert ons in – ‘n sardoniese glimlag op die gesig.
“Nou ja, menere, wat het julle vir julleself te sê? Julle is nog nie te groot en belangrik vir ‘n laaste goeie pak nie, hoor!” Toe voeg hy die daad by die woord.
Herinneringe soos hierdie het op- en oorgeborrel met die gedenkwaardige kuiertjie van my matriek-kamermaat, Wiekie (Vic) Moolman van Krugersdorp, aan Melkbosstrand verlede week. Wiekie (Vic) is ‘n afgetrede mynkaptein.
Soos hulle op Engels sing “Thanks for the memories”. Vic. Kom asseblief weer! (HvD
コメント