Ander mense se foto’s kan nogal pynlik raak as hulle jou die slag beetkry en vriendelik verplig om te kyk, kyk en nogmaals te kyk totdat jou gô uit is.
Veral uit die gloriedae van die skyfie – deur sekere taalbewustes ‘n skuifie genoem, omdat jy die skyfie moes in- en uitskuif in jou projektor, sien – onthou ek ‘n paar martelaande terwyl allerlei private versamelings eindeloos teen ‘n skerm of sommer ‘n wit muur geflits is. ‘n Sinkende magteloosheid het jou gepak terwyl jy deur stywe lippe oe en aa.
Ietwat verleërig onthou ek een aand in Randburg in 1977 toe ek nie aan die ontvangkant was nie, maar arme bure oorkant ons in Maroelastraat, Randparkrif 3, nogal in hul eie huis, onderwerp het aan ‘n skyfiesessie wat eers die gasheer Neil McLeod snorkend in sy leunstoel laat skeef val en later ook die gasvrou, Estelle, na ‘n dapper stryd uiteindelik voor Klaas Vakie laat swig het.
Die Van Deventers was pas terug na ‘n jaar in Amerika, tot barstens toe entoesiasties oor al die wonderlike dinge wat ons gesien en beleef het, en met letterlik sulke bliktrommeltjies vol skyfies. Die McLeods het seker nie besef waarvoor hulle hulle inlaat nie toe hulle ons in ‘n onbewaakte oomblik vir aandete oorvra en ons nooi om sommer ‘n klompie skyfies saam te bring.
By my vrou, Tokkie, is my aandele t.o.v. bedagsaamheid hoeka nie hoog nie. Daardie aand het my reputasie in daardie verband ‘n dramatiese duik gemaak. Sy ril nou nog as sy aan my demonstrasie van dikvelligheid dink. Ek het my nie laat afskrik nie en meedoënloos elke liewe skyfie wat ek saamgebring het, tot die laaste ene op die sitkamermuur geprojekteer. Dit was laat in die nag toe ons afskeid neem.
Jy kry natuurlik twee soorte mense: die foto-mense en die nie-foto-mense. Eersgenoemdes raak maklik aan die klik van ‘n kamera verslaaf. Hul pakke foto-albums reik naderhand hemelhoog en oral in laaie en bokse is nog foto’s, foto’s, foto’s. Of negatiewe wat al total onidentifiseerbaar geraak het, maar as te waardevol geag word om snippermandjie toe te gaan.
Ek moet bely dat ek van daardie spesie is. En die digitale era maak vir ons soort nogal allerlei deure oop. Koerante en tydskrifte se webwerwe en foto-parkeerplekke soos by Flickr en Picasa skep nuwe geleenthede vir opberging en uitstalling.
Op Die Burger se webwerf is byvoorbeeld ‘n rubriek met die naam Leserlense met ‘n rits galerye waarheen jy na hartelus foto’s van enige onderwerp onder die son kan stuur. Een van die nuwe afdelings heet Vergange tyd. Stuur foto’s wat jou ver-ver laat terugdink, lui die uitnodiging.
Wel, die uwe het hom nie twee maal laat nooi nie. Die foto hierbo van ons plaashuis in die distrik Babanango in Noord-Kwazulu-Natal is een wat ek gestuur het. Dit is ongeveer 1940/1941 geneem, net voor of na klein Hennie se geboorte. Kyk net daardie karre!
Ek sou nog hope tydgenootlike foto’s kon stuur, maar ek wil nie ‘n oorlas van myself maak, soos daardie aand by die McLeods nie. Vir die halwe kans dat daar dalk mede-verslaafdes is wat tog omvattender insae in ou Van Deventer-kiekies sal verwelkom, meld ek egter graag dat veral twee Picasa-albums nogal ver terugdelf in sowel my as Tokkie se lewens.
Wie hulle wil besoek, is welkom. Gaan net net www.hennievandeventer.com en gaan soek n entjie onder die besoekersboek die skakel na my Picasa-albums. Die twee wat ek veral hier wil uitveil, is album 1, HvD: Eerste 40 jaar, en album 2, Goeie ou dae (tot 1980).
Wees my gaste – tot hoe laat in die nag julle wil.
コメント