Hierdie ou is terug in die hospitaal, daardie ou kom aanstaande week onder die mes, hierdie ou sukkel maar nog met die nagevolge van ‘n groot operasie, daardie ou verwerk nog moeilik die verlies van ‘n lewensmaat vir 50 jaar. So stapel die getuienis van die ouer word in eie geledere op.
Nee aarde, stop die bus, roep een van die flinker 76-jariges by ‘n onlangse ete uit. Moet ons onsself so in ‘n put inpraat met al die negatiewe nuus oor ons makkers? Wat kan ons doen om te keer dat elke geleentheid sommer by die afskop in ‘n treurmare ontaard en die hele luim versomber?
‘n Gewigtige debat volg. Uiteinde is: die saak word – soos altyd wanneer ‘n oplossing nie voor die hand is nie – na die komitee verwys om ‘n plan te maak. Arme komitee – dit gaan voorwaar kopkrap verg, vrees hierdie 72-jarige wat self met ‘n semi-permanente kierie in die hand loop weens ‘n afgeleefde heup wat dringend om vervanging roep.
Ophou kennis neem van makkers se kwinte en kwalekanons tog nie. Ondersteuning , meelewing en saamdra aan mekaar se laste is immers ‘n kern-strewe van die klub. Ons moet tog weet en wil tog weet as een (of meer) van ons dit aan die bas voel dat die ouderdom, soos hulle sê, nie vir sissies is nie.
Maar net slegte nuus is inderdaad ongesond vir die kollektiewe moreel. Dis soos die Engelse spreekwoord beduie: All work and no play, makes Jack a dull boy.
Wat nodig is, lyk vir hierdie waarnemer, is groter ewewig tussen lief en die leed. Laat ons waak teen oorbeklemtoning. Laat ons, as ‘t ware, die een doen en die ander nie nalaat nie.
Die nimklike 76-jarige met die kommer oor te veel somberheid, het immers met sy Honda Gold Wing, ‘n pragstuk van ‘n ysterperd, opgedaag. Daaroor is net privaat allerlei wyshede kwytgeraak.
‘n Tweede lid het twee dae tevore sy 80ste gevier. Hy het vonkelwyn saamgebring, en is op pad Mauritius toe vir ‘n welverdiende wegbreek- vakansie met sy gade – ‘n jaar ná hul goue bruilof.
‘n Derde – 76 of 77, ek is nie seker nie – se oë vonkel oor die vooruitsig van ‘n nuwe, groter, in elke opsig beter ryhuis vir sy gereelde toere oweral – in die laaste jaar of twee selfs na Kroasië, ‘n avontuur waaroor ‘n artikel in die tydskrif Wegsleep was.
Vele ander lede doen dinge wat hulle nog nooit gedoen het nie, pak nuwe projekte aan of behaal prestasies wat stil-stil verbygaan.
Dis mos maar soos dit is, nie net in ons klub nie. Ook my leefwêreld vir meer as 40 jaar, die koerantwese, struikel in daardie opsig dikwels dat koerante die positiewe nuus onderspeel.
Wil nie die komitee se werk vir hom probeer doen nie. ‘n Mens sou egter kon begin deur by elke byeenkoms vir elke lid kans te gee om mee te deel wat in sy huis gebeur het wat vreugde en blydskap bring. Die resultaat kan verbasend wees, glo ek. Die slegte nuus sal wel vir sigself sorg!
コメント