Watussi-vrou – Irma Stern se R13 miljoen-meesterstuk.
Of ek vandag uit selfbejammering skryf, of uit afguns, of uit onkunde, moet elkeen maar vir homself/haarself besluit.
‘n Groot advertensie op Die Burger se voorblad kondig aan: Stephan Welz is op pad Kaap toe. Dus, mense, ruk op met julle ou meesters, laat die ghoeroe vir julle vertelle of julle ‘n goudmyn teen die muur het of ‘n waardelose prul.
Die advertensie herinner my aan drie dinge:
Die eerste: die vriende, liewer naamloos uit vrees dat kunsdiewe kan kennis neem en onheilige planne begin smee, met ‘n Irma Stern aan hul eetkamermuur.
Ek loer telkens daarna wanneer ek die voorreg het om by die gasvrye mense aan tafel te kom. Sal ek of sal ek nie? Die versoeking is darem groot om die een of ander “vanishing trick” uit te voer wanneer die gasvrou vinnig kombuis toe glip en die gasheer die glasies gaan vul.
Sal hulle dadelik raaksien as daardie stukkie muur kaal geraak het? Moontlik, want hulle kan nie onbewus wees van die asemrowende pryse wat me. Stern se skilderasies oral op veilings behaal nie. R13 miljoen vir ‘n Wattusivrou – sjoe!
Die twee ding waaraan ek dink, is die relatiewe waardeloosheid van die “kunswerke” aan die uwe se eie mure, helaas. Skilders wat ge-affronteer voel omdat van hul produkte, na hul wete, in Van Deventerbesit is, moet tog maar vergewe, maar die waarheid is dat geeneen van die betrokke werke mnr. Welz na verwagting buitengewoon sal imponeer nie.
Een van die uitsig op Tafelberg van onse Melkbosse stoep af was ‘n geskenk met my aftrede in 1998. Vir my nogal besonders – net ongelukkig van die yslike boom op die strand. Ek woon nou al dertien jaar op Melkbos en soek nog vergeefs na daardie boom. Dalk is dit wat die kenners ‘n surrealistiese werk sal noem!
Hoop Tafelberg word een van die nuwe “sewe wonders” – ek was een van die eerstes wat gestem het ondanks die misdadigheid in sy klowe – want net altemit slaan ek dan ook ‘n slag. Sit, so tussen ons, met nog ten minste drie ander Tafelberg-weergawes teen die muur – een buitengewoon vrolik met die flambojantste kleure.
Die skilderes, een met ‘n Melkbos-adres, het volgens eie mededeling een skemeraand met sonsondergang met ‘n bottel wyn op die stoep kom stelling inneem op wag vir die Muse. Of die kleureweelde van die Weskus-sonsondergang of die genot van die koue wyntjie die beste in haar skildery weerspieël word, is seker iets waaroor ‘n mens kan bespiegel.
Ek dink aan ‘n derde ding en dit is Gert van der Walt se suksesvolle en onsuksesvolle inskrywings vir ‘n kunskompetisie in die jare rondom ’60 by die Nasionale Museum in Bloemfontein.
Gert was ‘n landskapskilder uit Trompsburg se wêreld – later, na sy egskeiding, Port Elizabeth – wat veral in die jare ‘50 vele doeke met romantiese landskappe die lig laat sien het. Ek het met sy werk kennis gemaak by ‘n studentemaat wat stief-familie was, en in die distrik Philippolis geboer het – nie ver van Trompsburg af nie, wat natuurlik van hom ‘n gerieflike aflaaipunt gemaak het vir Gert se minder bevredigende produkte.
Ewenwel, een naweek toe ek en Tokkie daar kuier, sien ons die twee woelige seuntjies van ons gasheer en –vrou veerpyltjies na ‘n vreemde teiken werp. Dit was ‘n Gert van der Walt-skildery. Maar dis nie my storie nie. My storie is dat Gert hoopvol vir daardie kompetisie ingeskryf het. Toe word sy inskrywing waarin hy sy kunstenaarsiel gestort het, subiet afgekeur.
Gert was onhebbelik in sy gesig gevat. Hy gryp toe boos sy pajamabroek, doop dit in ‘n poespas van kleure en smeer dit lukraak af aan ‘n doek of twee. Daarmee sit hy af Bloemfontein toe. By die beoordelaars kry dit waarderende oe’s en aa’s. Uiteindelik hang dit teen die mure wat te verhewe geag was vir sy ernstige poging, met moeite volbring.
Was nogal ‘n verleentheid vir die Vrystaatse kuns-“establishment” toe die stuk moedswillige wraak in Die Volksblad onthul is. Wonder of mnr. Welz dit as prulle sou oormerk – en of die pajamakuns dalk regtig goed genoeg was om op ‘n veiling ‘n bieër met baie pitte se aandag te trek.
Comments