top of page
  • Izak de Vries

Kung Fu Panda 2; die Ritalin-weergawe

Toe Kung Fu Panda (die eerste keer) uitgekom het, móés Knaap dit natuurlik sien, so ek en hy het dit gaan kyk. Ek het dit selfs geniet, al is dit geensins my soort fliek nie. (Hier is my resensie daaroor.)

Natuurlik moes hulle toe ’n opvolg maak. Sug. En natuurlik moes ek vir Knaap vat; dubbele sug.

Waar ek my verkneukel het aan die grappies in die eerste fliek, is tweede bloot lawaaierig en banaal. (Selfs Knaap het gekla dit was te lawaaierig – en dit wil gedoen wees.)

My grootste probleem met hierdie soort snert is ongelukkig dat dit nog eens die stereotipe onderskryf dat ’n mens nie hoef te werk vir iets nie – pop die regte pil, of sluit by die regte meditasieklas aan, gee jou geld vir ’n Kerk as jy wil, en alles sal outomaties in plek val.

In nommer 1 is die keuse van die panda as die Dragon Warrior verantwoordbaar, want die luiperd (die slegte ou) het die vermoë om opponente uit te skakel deur ’n vreemde, verlammende truuk op hulle senuwees uit te oefen met sy kloue. Vettie, die Panda, se rolle maak egter in die doodsnikke van die stryd dat die luiperd dit nie regkry om sy senuwees by te kom nie, en daarom was dit ’n duidelike intervensie van die gode dat Vettie die regte een was.

Goed so, selfs die onwaarskynlike een kan dus ook ’n held wees.

MAAR: In nommer 2 is die ou steeds vet, skynbaar steeds bitter lui en steeds totaal en al onfiks. Tog dôner hy eiehandig leërskares op.

Ek het daar in die fliek gesit en treur vir ons Westerse samelewing – en al wil ons landgenote dit nie glo nie, verteenwoordig die ANC-Jeugliga alles wat negatief is aan die Amerikaanse model, hulle verstaan niks van Ubuntu nie. Ek sluit hulle dus by die sinkende Weste in.

Kunf Fu Panda 2 laat my dink aan die bemarkers van Ritalin. Daar is dokters wat bekend is as Ritalin-dokters, en hulle kry dit reg om mammies en pappies te oortuig dat hulle kinders die eerste dag al verbetering sal toon op Ritalin. (Novartis het MOERSE goeie bemarkers.)

Daar is selfs ouers wat hierdie nonsens skynbaar glo.

Wanneer ek dan, met alle respek, aan mense probeer uitwys dat nuwe neuronvoetpaadjies slegs, en alleenlik, deur oefening en repetisie gevorm word, nie deur pille nie, word hulle kwaad en word ek afgemaak as ’n leek wat niks weet nie. Ritalin-evangeliste is goed opgelei om mense wat verskil, te boelie.

Maar, is dit nie presies wat tans met die Weste verkeerd is nie? Kyk na Enron. Kyk na die banke wat inmekaar tuimel.

Die VSA is bankrot (om nie van Griekeland te praat nie!). Ysland se ekonomie is in sy maai, alles net omdat mense nie kon, of wou, verstaan dat jy nie aanhoudend kan skuld maak nie.

Is dit nie tyd dat ma’s en pa’s begin lees oor die goed wat dokters voorskryf nie?

Is dit nie tyd dat mense begin kyk na hulle leiers en vra: Wat wil julle regtig hê vir die toekoms nie?

Malema, tipes ’n Ritalin-leier, sê: “Vat die grond sonder om te betaal”. Die massa, tipies hulle wat Novartis se evangeliste glo, sê: “Stem vir Malema!” Niemand dink aan die toekoms nie.

Maar wag nou: Hoeveel intelligente mense val nie vir geldmaakskemas wat opbrengste van 300% bied nie? Die logiese vraag is: As Allan Gray slegs 30% haal, hoe is dit moontlik dat hierdie kêrel soveel beter is?

Ek kan aangaan, maar die punt is gemaak. Ons samelewing is nie meer krities nie en ons wil nie meer werk vir sukses nie. Ons wil alles in ’n kits hê, ons dink Red Bull gives you wings.

Goed, sê julle nou vir my, dis fiksie hierdie.

Ja, sê ek. Ek stem saam. Maar in die oorspronklike Karate Kid moes die outjie “wax on, wax off...” Die hele tyd. Daar moes iets gedoen word voor hy (steeds fiktief) die trofee kon inpalm.

In Kung Fu Panda 2 moet jy maar net opdaag – lui, vet en onfiks!

Nie almal van ons is briljant nie. Ek het die ander dag die Comrades klaargemaak in 11 uur 50 minute – tien minute voor die afsnytyd. Dis ’n belaglike stadige tyd, maar ek het dit gaan doen. En ek het geoefen. Jy hoef nie goed te wees om die Comrades te doen nie, maar jy moet darem wragtig meer doen as om een of ander multivitamien, of Red Bull, of enige so iets te sluk.

Ek is beslis nie teen medikasie nie. Ek is teen mense wat dink sukses kom uit ’n bottel.

Leer kinders gerus dat hulle met ’n sekere hoeveelheid “wax on, wax off” ook suksesvol kan wees. Leer kinders dat dit oukei is om ’n sekere suspension of disbelief toe te laat in fiksie.

Dis ook oukei as die under dog soms wen.

Maar:

  1. leer ons kinders dat oefening en harde werk jou iewers bring, nie bloot die hoogste IK nie, en beslis nie Red Bull nie, ook nie enige ander pille sonder werk nie;

  2. leer ouers om die snert wat dokters aan hulle vertel, te bevraagteken;

  3. leer diegene wat hulle geld wil spaar, dat geld nie uit die lug val nie, bevraagteken dus die twak wat mense jou vertel as hulle kwansuis veel beter doen as die ander makelaars;

  4. leer die Amerikaners dat oorgewig ongesond is en dat skuld verkeerd is, boonop dat Republikeinse tax cuts for the rich almal armer maak.

Vat dus jou kind na Kung Fu Panda 2 (net as dit moet), maar wys vir hulle daarna die oorspronklike Karate Kid en gebruik die geleentheid om iets te doen om aan jou kind langtermynwaardes te leer. (Ek probeer, ek weet dis makliker gesê as gedaan, maar hel, ek probeer.)

1 view

Recent Posts

See All

Commentaires


bottom of page