
Volksblad-veterane: HvD, Jan Scholtz, Jaap Steyn, Piet Theron, Sarel Venter.
Vrydag word ons in Bloemfontein begroet met die nuus: “Stad blink gepoets vir blitsbesoek”. Dis toe nie hierdie Verlore Seun wat nie vergeet is nie; dis Oprah wat haar “honoris causa” kom haal. Tot slaggate is vinnig opgevul om die “koningin van klets” se sagte Amerikaans sitkussings te spaar. Ohopoho!
Wat ‘n Kuier (groot K is doelbewus) was dit nie die laaste paar dae in die Vrystaatse hoofstad, waar ek en Tokkie vroeër twee sulke gelukkige skofte deurgebring het nie – 1966 tot 1974 en toe weer 1980 tot 1992. ‘n Kuier propvol groot K’s is dié naweek ingepas – met al die ophef oor die “koningin van klets” se besoek maar onderlangs op ons persoonlike lysie van groot dinge en groot oomblikke.
Die Koue het sy merk gemaak. As die Van D’s dalk al vergeet het hoe Bloem kan bibber as die kwik vriespunt toets, sal ons dit ná dese deeglik onthou. Snerp ‘n ysige windjie boonop om die hoeke, boeta, dan bars jy. Ons het! Tokkie is vinnig winkel toe vir ‘n sweetpakbroek met wol uitgevoer.
Koffie saam met ‘n veertig-stuks ou vriende Vrydagmiddag in die knusse restaurant Santa Fé (eienares: Santa Nortjé) by die Vrouemonument was ‘n fees. Toe ons gaste begin aankom, skuif die gordyn oper en oper. Twintig jaar raak skielik oor ‘n botterbroodjie en melktertjie oorbrug. Ons gesels die koue skoon uit ons lywe uit.
Kollegas het gisteraand reünie in die kleine gehou by Sarel Venter se 70-vieringe, rondom lam op die spit, pappadel (‘n papbolletjie-met- sous-variasie op die tema frikkadel), heerlike ander bykosse en, piece de resistance, ’n oorspronklike “koerantkoek” met Sarel se geboorte op die voorblad (kyk vorige blog). Oud-Volksbladders die skrywer Jaap Steyn (my voorganger as hoofsub), Piet Theron, Jan Scholtz, Sarel en die uwe kon lekker sentimenteel raak oor die goeie ou dae.
Kerk vanoggend in ons ou gemeente Berg en Dal met ds. Gert Terblanche in sy toga op die preekstoel en die sonore, tradisionele orrelklanke uit ‘n elegante stel nuwe orrelpype was ‘n tuiskom-ervaring soos min. Toe sing ons nog as slotgesang die ontroerende lied 512, Nader my God by U. Sielsverheffend!
Ontroerend, was die herbesoek ná twee dekades van die Vrouemonument en Oorlogsmuseum gewis ook. Mense, moenie by Bloemfontein verbyjaag nie. Hier in die uitsonderlike museum is hartsgoed met soveel liefde, passie, sorgsaamheid en styl aangebied dat jy van klip moet wees om nie daardeur aangegryp te word nie.
‘n Onbekende vir dié twee Melkbossers was die monumentale groot kwilt van Naomi Moolman van Vanderbylpark – ‘n hele muur vol (6,38 meter breed en 3,34 meter lank) wat in Augustus 2010 aangebring is. Die Anglo-Boere-oorlog word in 48 meter materiaal, met sewe kilometer garing, 144 afgestrykte foto’s en 163 gekwilte voorwerpe (koffieketels, vuurherde, doilies, ens) treffend uitgebeeld.
Naomi (niggie van ons vriendin Nella Jacobs van Centurion) en haar span flukse helpers het in die ongelooflike kort tyd van ses maande dié reusewerk voltooi, van die ontwerp af tot die laaste garingstekie van die kwiltwerk. Altesaam 21 kleurdrukker-en 14 swart kassette is opgebruik. Die “Erfeniskwilt” heet hierdie indrukwekkende liefdesarbeid van die Vanderbylparkers, en ‘n onvervangbare erfenis is dit inderdaad.
Die bewondering, dankbaarheid en bewoënheid wat in die besoekersboek uitgestort word deur strome buitelanders en besoekers uit elke uithoek van die land, spreek boekdele. Maar eintlik weet Suid-Afrika hiervan te min. Wens ek kon die TV-regisseurs, tydskrifjoernaliste en al wat mediamens is, oortuig om te kom kyk – en die waarde van hierdie skat self te kom takseer
Comments