Die voorvadergeeste waarmee ongestofistikeerde kiesers nou bang gemaak word, herinner my aan ‘n vers van Henk Malan van Potchestroom wat ‘n groot waarheid van ons diverse samelewing vir my nogal pikant raakvat.
Ek het Henk se vers gaan uitdolwe, en bied dit hiermee as relevante leesstof voor Woensdag se verkiesing aan (hoop Henk het hiermee vrede!)
Eers: wie’s Henk Malan? Hy is ‘n oud-dosent in Afrikaans met wie my paaie gekruis het toe ek dringend op soek was na T.T. Cloete se bloemlesing, Faune (ja, dis Faune, nie Fauna nie!).
Dis ‘n publikasie waarvan ek total onbewus was todat ek skielik ‘n jaar of vyf gelede die “blink ingewing” kry om die mooiste natuurverse in Afrikaans in een bundel byeen te bring; het selfs al by Kerneels Breytenbach begin aanklop vir tegniese kwessies soos tantieme, en dies meer.
Toe lees ek op Beeld se boekeblad in ‘n resensie ‘n verwysing na die Cloete-boek, wat my laat besef dat my “blink ingewing” dekades al deur iemand anders tot uitvoer gebring is – niemand minder nie as die ou meester van die digkuns, T.T. Cloete, self, wat ook ‘n Potchefstromer is.
Nietemin ek begin soek en soek vir sy boek; rig my versoek oplaas aan Beeld se boekeblad wat dit publiseer. Toe laat weet Henk Malan uit Potch: “Kom haal vir jou die boek.” Dit staan nou op my Sabiepark-boekrak.
Ons was ‘n Sondagoggend by hom, en om die een of ander rede wat my nou ontgaan, vertel die vrygesel oor sy Klippies en Coke van sy vers Drie gode. Hier volg dit. Ek is ‘n leek maar na my oordeel het dit groot meriete:
Drie gode
Vir Anna, my huishulp
As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het … Lukas 17.6
Met skelrooi bloes en kraakwit kraag
Doen sy Sondae haar kruistoggang –
Waar Jesus leepoog aan die kruishout hang
Om hom te loof met kreungesang.
Vanaand sal sy voor haar ysterbed
-drie baksteen bo die beesmisvloer –
Prewelend, beangs iemand vra
Dat die Tokkelos haar nie moet pla.
More sal sy met gesuiwerde siel
Op die kombuisvloer seer-knie kniel
Om so ‘n ander god te dien
Wat haar maand’liks van haar loon voorsien.
Godvresend sal sy deur die lewe gaan –
Al het sy die drie-enig God nie mooi verstaan.
Henk Malan
留言