Links: Ouma op 90 – nog geen agterkleinkinders
Regs: Ouma op 95 – vyf agterkleinkinders. Nou is daar sewe. Die 8ste is op pad.
Dalk die bemindste figuur op Bultfontein in die tweede helfte van die vorige eeu was my skoonma, Marietjie van Wyk, wat Saterdag ‘n geseënde 98 jaar oud word. Sy is al 63 jaar weduwee, een wat dit nooit te breed gehad het nie, maar wel een met ‘n kruik vol liefde en diensvaardigheid vir kerk en gemeenskap. Daardie kruik het nooit leeg geword nie.
Ouma Marietjie is nou in ‘n rolstoel in die siekeboeg van die Groeneweide-tehuis op Darling. Saterdag kom sy op Melkbos ‘n tjoppie eet, haar koningskos waarmee sy ook meermale haar kinders, Tokkie en haar ouer broer, Fanie, verras het as hulle van die skool kom: die rooster van ogiesdraad op die kole van ‘n stronkvuur, beskut deur los bakstene, plat op die grond.
Hoe sal ek Ouma onthou? Waarskynlik as enigste mens ter wêreld wat my nooit een harde woord toegevoeg het nie. Nooit. Sy is die lojaalste skoonma denkbaar – die lewende rede waarom ek niks van skoonmagrappies hou nie.
Wel, ek het in Hertzogstraat, Bultfontein, ook die eerste keer pampoen geëet wat lekkerder is as soetpatats, aan haar geurige, bros frikkadelle verslaaf geraak en weggelê aan die skons waarvan sy vir elke liewe begrafnis ‘n bordjie moes lewer. In later jare was sy die een wat met ‘n papierbord my vuurtjie help aanwakker het terwyl dit op Buffelsbaai swaarkry in die wind.
Tokkie onthou duisende pikante dingetjies, waaronder die ferme hand van ‘n moeder wat nie aan enige vorm van buitensporigheid geglo het nie. Op ‘n telegram is byvoorbeeld die minimum woorde gebruik, want elke woord kos geld, allakragtie. Mej. Gesina van Wyk (vier woorde) het net geword Gvanwyk (een woord). Fanie het Ouma se wrewel ontlok deur sy “duur” pen by die skool te vergeet. Hy is siedend teruggejaag – so woordryk dat ‘n buurman, Oom Willie Koster, besig om ‘n venster te herstel, stil-stil met sy troffel en al die hasepad gekies het.
Ene “ Ou One Light” – so genoem weens sy pêreloog – het ook agtergekom dat Ouma nie “twak vat nie” toe hy vir hondelisensies kom snuffel. “Man, hier blaf ek sommer self,” het sy hom kortgevat,
In sy gelukwensing Sondag van die kansel van ons kerk op Melkbos het dr. Francois Hanekom vertel van ‘n onlangse besoek. Hy het ‘n Psalm gelees. Soos altyd, het sy intens geluister en aan die einde die kernversie agterna woord vir woord met haar lippe gevorm. By bidure het sy tot in haar 90’s altyd almal verstom omdat sy elke woord van elke ou geestelike lied uit die vuis ken.
Sy het ‘n leeftyd lank haar alles vir haar dorp, kerk en gemeenskap gegee. Ouma Marietjie het in 1949 op 35 haar intrek in Hertzogstraat geneem. In 1991 op 77 het sy by ons in Bloemfontein kom woon.
In die kerk was sy van jongs ‘n pilaar. Sy het onvermoeid derduisende pannekoeke vir elke geleentheid op haar primusstofie gebak, Sondagskool en Kinderkrans gehou, die kerk se breekgoed beheer, kerkklok gelui – al het die swaar klok haar by geleentheid spartelend die lug in gepluk – en in die algemeen as “doomnie” se regterhand ageer. Een van die gelukwensings wat sy Saterdag sal ontvang, sal ongetwyfeld wees van een van haar Sondagskoolkinders van 60 jaar gelede, Helena Sullivan (voorheen Borman) van Pretoria. Dit sê nogal iets van haar.
Omdat sy ‘n soort rolmodel was van ‘n deugdelike Christelike vrou en moeder, was dalk haar donkerste oomblik toe ‘n meerkat een Sondag die kerk binnesluip en by haar enkels begin rondsnuffel. Sy het vervaard haar bene opgeruk en, voor sy kon keer, die Allerhoogste aangeroep: “O God!” Sy het dae lank oor daardie verspreking trane gestort.
Later jare was ‘n donker oomblik toe sy op 70 met die binnekant van ‘n hof kennis maak – maar darem net haar geil potplante te kom uitken wat sy getrou met skoppies perdemis uit die straat gevoer het. ‘n Dief kon daardie sierade eenvoudig nie weerstaan nie.
‘n Derde laagtepunt was toe ‘n wildvreemde in die graf langs haar ontslape man, Kotie, inglip net toe sy haar rug uit Bultfontein draai. Sy het jare nougeset gewaak oor daardie graf met ‘n blikplaatjie waarop “Van Wyk” geverf was. Ná groot marakkas het die munisipaliteit as vredesgebaar skoonpa Kotie se graf van ‘n sementblad voorsien sodat dit haar ook sou kon akkommmodeer.
Sy was ‘n regterhand nie net vir die dominee nie maar ook vir Bultfontein se artse. Nooit het sy geaarsel om in die middel van die nag net ‘n japon aan te pluk en haar na ‘n siekbed te haas om bystand te verleen nie – sou dit net wees om die drupsakkie omhoog te hou of ure te waak by ‘n kandidaat vir ‘n moontlike allergiese reaksie op ‘n inspuiting nie.
Vir die skool was haar huis ‘n soort noodhulp-“anneks”. Elk kind wat salf of verband nodig het, is na “Tannie van Wyk” gestuur. Sy het haar oor almal ontferm en het daadwerklike hulp verleen, ook in die geval van die verleentheid van ‘n ontydige glipsie. ‘n Roosknop wat in die neus van ‘n stout seuntjie opgedruk is, het sy sommer met haar borsspeld se speld uitgegrawe terwyl sy hom met haar knie platdruk.
Oor Ouma kan ‘n mens ‘n boek skryf. Een hoofstuk sou kon wees oor die petalje toe Ouma en die huishulp Griet Williams se foto’s per abuis deur Binnelandse Sake in hul uwe ID-boeke omgeruil is. Die twee het mekaar altyd oor en weer geterg oor wie se voorouers dan bobbejane was. Weet nie of die fotoruilery lig op daardie dispuut sou werp nie!
‘n Keer koop Tokkie, ewe avontuurlik, vir Ouma (al verby 90) ‘n bloedrooi nagrok vir Kersfees. Later kom sy agter die nagrok verdwyn periodiek uit die Seapark-tehuis, Melkbos, waar Ouma eers was – waarskynlik vir jong personeel se stomende naweek-uitstappies.
Sal ek ooit vergeet toe ons Ouma vir oulaas saamgevat het om te gaan stem. Sy was toe al immobiel en ek dring toe aan dat die kiesbeamptes na die motor kom. Opskudding. Ons word na ‘n ander stemburo gestuur waar leidsliede van die OVK dan teenwoordig sou wees. Hulle is egter nie, en ons word teruggestuur.
Van D. se lont raak korter en dit ruik na kruit toe ek uitklim om my eis, taamlik adamant, luidkeels te herhaal. “Meneer, ons sal ‘n senior kiesbeampte van elders laat kom. U sal moet wag.”
“Dan wag ek”. Toe wag ons.
Daardie kiesbeampte was nie net oor die bult nie. Ons weet dat ons gewag het. Toe hy eindelik opdaag, vereis die letter van die wet dat die verteenwoordigers van die verskillende partye teenwoordig moet wees waar Ouma kruisie trek. Ek maak egter beswaar dat hul kringetjie om die motor intimiderend vir haar is. Die partyverteenwoordigers retireer. Ouma stem.
Die volgende oggend se Tokkie vir haar “ons” party het dit met een stem gemaak – hare. “My kind,” se ouma. Maar natuurlik het Tokkie sommer haar ma se been getrek.
Comments