top of page

KROONJUWELE VAN DIE KAMPUS

Uitmelkbos

Van die joolkoninginne van my tyd op Tukkies (1958 – 62) onthou ek net drie, Johanna Cilliers (1959), Marguerite Deale (1961) en Tokkie van Sraden (1962). Die Tukkie-argiefmense sit ook met die hande in die hare oor die ander. Hoop iemand kan help.

Johanna was ‘n lang, lenige blondine – so ‘n klassieke Skandinawiese soort skoonheid. Ek vermoed die meeste Tukkiemans was half lugtig vir haar, en sou nie sommer vir hulle enige vrypostigheid veroorloof nie. Sy is later met die rugbyspeler Stronkie Stronkhorst (‘n agsteman) getroud.

As die fraaie Anneline Kriel (1973) die mooiste joolnooi van almal was (HvD se blog van 02/02/10), was my tydgenoot Marguerite (1961) waarskynlik baie naby aan die elegantste.

Kyk mooi na die foto hierbo. Perdeby-fotograaf Dirk Cloete het die stralende Marguerite in haar ouerhuis afgeneem by die finale passing van haar droomrok twee dae voor haar kroning. Toe sy haar verskyning bo by die siertrappe maak, was sy vir my die toonbeeld van ‘n “Southern belle” uit die 1939-Hollwood-treffer “Gone with wind”. Dit kon net sowel Scarlett O’Hara (Vivien Leigh), ster van dié immergroen rolprent, gewees het wat soos ‘n standbeeld daar staan.

My teenwoordigheid by die geleentheid word verklaar deur my redakteurskap van die studentekoerant “Die Perdeby” in die jaar dat sy die joolsepter geswaai het. Ek was by om ‘n berig te maak vir die Vrydag se “Perdeby” oor die joolkongin wie se identiteit op daardie oomblik nog ‘n geheim was. “By” was by – ‘n “scoop” vir my koerant.

By? Wel, darem nou nie heeltemal by nie. Ek en Dirk was was nie toeskouers toe die dramatiese wit aandrok oor Marguerite se skouers glip nie, maar het bedeesd onder in die sitkamer sit en wag vir die “grand entréé”. Ons was nie min jaloers nie op die ontwerper se vrye toegang tot die binnekamer. Oningewy in sulke dinge, was só ‘n privilegie vir ons ongehoord!

Die Saterdag met die optog was Marguerite ‘n koninklike figuur hoog op die hoofsierwa saam met haar prinsesse, Gerda de Bruyn; Ivette Bauristhene; Florence Wiid en Dawn Coetzee (foto hierby). Gerda het later mev. Oupa du Piesanie geword. Die kookwater-flank was Tukkies en die Blou Bulle se rugbykaptein.

Tokkie en haar span prinsesse van 1962, Lilette du Plessis, Marianne van Oudtshoorn, Gerdia Neethling en Hazel Kaurill – ek onthou veral vir die pragtige Gerdia (wat jonk-jonk in ‘n motorongeluk dood is) en Marianne met bewondering en deernis – het een Sondag by Kollege-tehuis kom eet. Ons koshuis was in 1962 die bouers van die hoofsierwa omdat ons sierwa in 1961 as die beste bekroon was, en hulle het kom dankie sê.

Ek was huisvoorsitter en gasheer by die ete in my swart wolpak met die fyn wit strepies. Terwyl ons aansit, dra van die moedswillige Kollegemanne toe my Fiat 500-stasiewaentjie (om die beurt bekend as die “Grassnyer” of die “Skoolbus”) weg. My ego was bra afgeblaas toe ek ná ete my kosbare vrag (Gerdia en nog een van die prinsesse) wou Asterhof toe bring en my wiele is (minstens ‘n paar minute) skoonveld!

Ons Kollegemanne het nie ‘n slegte “joppie” gedoen met ons sierwabouery nie, al moet ek dit dan nou self sê. Dit was ‘n kleurryke “swanemeer”, getrek deur ‘n swaan, waarvan die nek dalk ietwat eleganter kon gewees het. Die skoonhede was op groot waterlelies, alles uit gevoude kreukelpapier vervaardig. Die raamwerk was van ogiesdraad.

Op die foto hierby beur Kollege se wa met die kroonjuwele van die kampus, Tokkie, Gerdia, Marianne, Lilette en Hazel, om Kerkplein tussen die skare waarderende jooltoeskouers deur.

Mintag, die huisvoorsitter was ingenome met sy manne se pragstuk, en die gekneusde ego weens die Fiat-episode sommer weer punt in die wind!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page