top of page
  • Uitmelkbos

Krimineul

Deel van die dans (as ek ‘n stuitige term mag gebruik) is die resensent se bevestiging van sy gesag. Noem my Oom Crito, maar vir my val dit op dat veral jeugdiger en/of onbedrewe resensente die gejeuk voel om die dans deeglik te dans: Spring weg met breë uitsprake, onderlê jou opmerkings met ’n paar gepaste verwysings, en dan trippel jy voort na die boek onder bespreking.

Jonathan Amid se bespreking van Eindspel, ’n nuwe krimi deur Wilna Adriaanse (Rapport Boeke), toon die jonge Amid in volle vlugvingerige glorie. Dit is vir Crito verstaanbaar dat hy hierdie dans dans; hy is besig om hom te vestig as een van die knapste lesers en resensente van die genre.

Hy doen die werk onder bespreking geen skade aan nie. Wilna Adriaanse kan meer as tevrede voel met sy resensie. Die lees van die resensie sou egter heelwat meer vreugde gebring het as hy meer vertroue gehad het in sy eie gesag as resensent, en nie behoefte gevoel het om te wys dat hy al die steppies ken nie.

So driekwart deur die resensie maak hy die volgende opmerking: “Eindspel se grootste oomblikke (daar is heelwat) is geskoei op Adriaanse se bereidwilligheid om minder op die plot en polisieprosedure, en meer op karakterontwikkeling en handeling te fokus.”

Dit sou volledig sin gemaak het as hy die hele resensie oor daardie boeg gegooi het. Verduidelik wat die grootste oomblikke almal behels, en hoe Adriaanse se aanpak dit mobiliseer. Dan het al die ander dinge waarmee hy die dans gedans het, vanself in die verbygaan hulself aangemeld.

’n Laaste knorrigheid: Dit deug nie om ’n argument te probeer staaf deur te verwys na ’n roman wat nog nie verskyn het nie. Los dit uit. Dis die dinge van ’n kind daai. Koerantlesers hoef nie te weet dat jy naas resensent ook iemand is met voorkennis van publikasies nie.

Amanda Botha se bespreking in Rapport van Historikus Hermann Giliomee – ’n Outobiografie is gewis wat Crito van ’n bedrewe joernalis soos Botha verwag. Dit is ewewigtig, informatief, peilend. Ek het dit met aandag en genoegdoening gelees – totdat ek teen die einde vir myself vra: “En wat sou Sampie Terre’Blanche hiervan dink?”

Dit ís dikwels meer interessant om ’n bespreking te lees deur iemand wat ’n skeibreker is.

Schalk Schoombie is ’n joernalis, dramaturg, skrywer en nou ook resensent van Marita van der Vyver se jongste werk, Misverstand. As ongerehabiliteerde wellusteling het Crito die resensie met toegespitste aandag gelees. Schoombie het Crito netjies tot bedaring gebring en sal sy leiding by Schoombie neem, en verder in ’n mineurtoon skryf. Dis aansteeklik. Hy sê die boek is ook in daai toon geskryf.

Dit lyk vir my resensente het met Van der Vyver se werk ’n eiesoortige problematiek. Almal is hiperbewus van Griet skryf ’n sprokie. Almal het haar ontwikkeling daarna deur die jare gevolg, met sekere verwagtinge. Schoombie verwys na verskeie daarvan, maar Crito kry die gevoel, terwyl hy sy argument in mineurtoon ontwikkel, dat Schoombie ook met ’n mate van ironie skryf. Wanneer hy Zoë se oorryp taalgebruik aanhaal oor die seks wat sy gehad het op elke moontlike plek, tyd en manier, dan weet Crito dat Schoombie met ’n sweem van ’n glimlag vir jou sê dat dit eintlik hier gaan oor mense wat nie meer seks het op elke moontlike plek, tyd en manier nie.

En so aan.

Teen die einde van die resensie styg Crito se bewondering vir Schoombie as gebruiker van die meerduidige formulering. Sê hy: “Misverstand, deurgaans vloeiend in die mineurtoon van melancholie geweef, is nie die skrywer se boeiendste roman nie. Tog bied dit pitkos vir ouer word, internasionale omwentelinge en eietydse kwelvrae. As sulks is dit ’n gevoelige tydsdokument wat die leser noop om wyer te dink en te lees.”

Nè?

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page