top of page
  • Uitmelkbos

KREET UIT DIE HART


Die groot staatsdienshorlosie teen ‘n muur in die Groote Schuur-teater waar die eerste mensehart 50 jaar gelede oorgeplant is, staan op twee minute voor ses die Sondagoggend, 3 Desember. Dit was die uur van waarheid.

Op daardie grootse oomblik het die klein, gesonde skenkerhart van ‘n jong ongelukslagoffer, Denise Darvall (25), ná ‘n skok of twee spontaan in die borskas van die dodelik siek kruidenier Louis Washkansky (57) begin klop.

Op daardie oomblik uiter die hartchirurg Christiaan Neethling Barnard, sendelingseun van Beaufort-Wes, ‘n gelade paar woorde wat die verwondering van al die spanlede verwoord.

Wat was daardie woorde presies? In terugblikke in die naweek by die vyftigste herdenking van daardie reuse-deubraak vir die mediese wetenskap die nag van 3 Desember 1967 in Kaapstad is verskillende weergawes aangebied. Volgens een weergawe van ‘n teenwoordige in die teater daardie nag is geen woord geuiter nie; net “sugte van dankbaarheid.”

In April 2017 het ek en my vrou, Tokkie, ons kleinkinders na die Hartmuseum in die Groote Schuurhospitaal gebring om – met die oog op die 50ste herdenking oor ‘n paar maande – die unieke gebeurde te herleef. Ons gids was die uiters knap Trace Adamo.

Trace het die dosyn of wat besoekers, sowel Suid-Afrikaners as buitelanders, stap vir stap deur die aemrowende operasie geneem. Ons het met gespitste ore gesit en luister op die klein “paviljoentjies” wat in die oorspronklike teaters A en B van Groote Schuur vir mediese studente ingeruim is.

Volgens Trace se boeiende vertelling was almal momenteel stomgeslaan. Toe verbreek prof. Barnard se fyn, hoë stem die gespanne stilte: “God, dit gaan werk!”

Dit is die woorde wat ek in my boek “Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman” aangeteken het. Daardie hoofstuk in my boek is Vrydagoggend deur Volksblad, Bloemfonteinse dagblad, opgeneem.

Saterdag verskyn in By, naweekbylae tot Die Burger, twee ander weergawes. Die rubriekskrywer John Scott, was in 1967 mediese beriggewer van die Cape Times. Sy weergawe van daardie dramatiese woorde haal ook die Opperwese aan maar in ‘n ander vorm: “Jesus, dit gaan werk.”

In haar omvattende huldigingsartikel in dieselfde publikasie deel Elsabé Brits, mediese verslaggewer van Die Burger, mee prof. Barnard het nie die Opperwese aangespreek nie, wel ‘n kollega: “Hel, Rodney, dit gaan werk …”

Op Google kry ‘n mens nog twee weergawes: “Christ, it is going to work” (onwaarskynlik as hy Afrikaans gepraat het) en net die kleurloos-neutrale “It is going to work” (onwaarskynlik weens die absolute gebrek aan emosie.)

In Sondag se Rapport vertel 82-jarige oud-teatersuster Susan Tawse, een van die handjievol oorlewende lede van die beroemde hartspan:

“Voor elke operasie het hy (prof. Barnard) stil eenkant gesit en bid,ook met die eerste hartoorplanting. Toe Washkansky se hart daardie Sondagoggend aan die klop geskok moes word, was daar doodse stilte onder ons. Eers ná die tweede skok (volgens Trace Adamo was daar drie!) het die hart begin klop. Toe hoor ‘n mens net sugte van dankbaarheid opklink.”

Die nagtelike drama het hom in twee teaters afgespeel: die een waar dr. Marius Barnard, jonger broer van prof. Chris, kort ná middernag Denise se hart met haarfyn sinchronisasie verwyder en versigtig in ‘n ysbak geplaas het; die tweede waar die pionier-chirurgie op dr. Washkansky deur ouboet Chris self uitgevoer is.

Ook oor die ligging van die twee teaters is in die naweek se terugblikke verskil. In een is lesers ingelig dat die twee teaters 32 treë uit mekaar was; in ‘n ander dat hulle buurteaters was. Laasgenoemde is korrek: ek weet omdat ek op die besoek in April self in die twee “Charles Saint”-teaters langs mekaar was.

Wens ek kon oor prof. Barnard se kreet uit die hart met dieselfde vrymoedigheid ‘n finale woord spreek. Oor sulke woorde van die uiterste historiese waarde by só ‘n epogmakende historiese geleentheid behoort onsekerheid darem nie ná 50 jaar nog te heers nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page