Moet joernaliste T-hempies met slagspreuke aantrek, plakkate swaai en selfs ‘n paar toi-toi-trippelpassies uitvoer om te protesteer teen iets wat hulle buitengewoon dwars in die krop steek?
Op Facebook is die antwoord in die inskrywings wat ek onder oë kry, bepaald ‘n dawerende ja!
Ek probeer ‘n ander standpunt stel. Ek glo outyds joernaliste protesteer in hoofartikels, kommentaar-rubrieke en dies meer – in elk geval ALTYD ALTYD op eie werf.
Die “pen” is hul magtigste wapen. Hulle betoog nie op straat nie, al is die saak hoe verdienstelik, soos die inkrimping van media-vryheid inderdaad is.
Of moet ons die spreekwoord nou verander: Toi-toi en T-hemde is magtiger as die swaard?
Die meeste Facebookers ignoreer die ou suurknol-oom. Diegene wat my standpunt respekteer, wys beleefd daarop dat die wereld daarbuite verander het. Ook kulture van protes. Ook dit wat maghebbers “laat regop sit”.
Maar laat betogings werklik nog iemand regop sit? Is dit nie voorspelbaar, vervelig en uiters onkreatief nie?
Kreatiewe mense protesteer soos Zapiro en Nando’s hierbo, glo ek. Betogings kan gaan slaap om daarby kers vas te hou.
* IN DIE BLOG HIERONDER: Wat is die gemene deler tussen tannie Danielle Mitterand se dood en “Swart Dinsdag”. Lees van die geheimsinnige “Martie van Rooy”.
Comments