top of page

KRAKE IN BOKSPAN?

  • Uitmelkbos
  • Sep 11, 2011
  • 2 min read

Bespeur ek krake in die Bokspan?

Ek gee my nie uit as rugbykenner nie, maar ek is lief vir die spel. Ek is van jongs af langs die veld of voor die radio of, soos deesdae. voor die TV.

Toe Basil Kenyon se Bokke (wat in die praktyk Hennie Muller se Bokke geword het) in 1951 teen die London Counties verloor het (11-9), het ek as penkop-skoolseun in Durban trane gestort. Vanoggend, 60 jaar later, was ek as gryskop-pensioentrekker op Melkbos na aan trane.

Ek gee my ook nie uit as kenner van lyftaal nie, maar ‘n leeftyd in die joernalistiek het my sensitief gemaak vir klein dingetjies wat iets groters verraai.

Francois Hougaard se onderhoud na die wedstryd het vir die uwe alte veel geklink of dit ‘n spanninkie of wat in die span laat deurskemer. Hy stel dit taamlik uitdagend dat die sogenaamde impakspelers inderdaad kom impak maak het toe hulle op die veld kom. Hy noem Bismarck op ‘n manier wat sy kaptein, John Smit, se ore dalk kon laat tuit het.

Jaque Fourie was duidelik krapperig en gefrustreerd. Sy bytende “ons kan nie sonder die bal speel nie,” is, wat my betref, ‘n klaarblyklike verwyt aan die adres van sy voorspelers wat sonder Bakkies sigbaar vuur kortgekom het.

John Smit kom klaarblyklik ook in daardie opsig in die spervuur.

En natuurlik Peter de Villiers, afrigter, wat die skuld vierkant op sy skouers moet dra as spanlede begin mor en opstandig raak omdat hy teen alle verstandigheid in met ‘n kaptein volhard wat nie die beste speler in sy posisie of die besielendste leier op die veld is nie. (Nie dat ek dink Victor Matfield is ‘n “God’s gift” as kaptein nie.)

Ons sal seker wen teen Fidji en so aan, maar dit gaan sukkel teen die groot honde as nie vinnig iets gebeur nie. Moenie in die roes van ‘n eenpunt-oorwinning miskyk hoe onoortuigend (en soms amper verward) die Bokke was nie. Dan sal die ontnugtering des te groter wees.

“Karakter gewys” is eintlik maar ‘n aweregse kompliment. “Gewys dat hulle kampioene is,” sou vir my groter betekenis gehad het.

Ek is nie anti-Peter de Villiers of anti-John Smit nie. Maar Peter sal sy slimmigheid moet sluk en die beste span kies. John Smit sal vir alle praktiese doeleindes die nie-spelende kaptein moet word. Hy praat mooi in Afrikaans en Engels en dra ‘n goeie beeld van Suid-Afrikaanse rugby uit – in sy Springbokbaadjie of silwergrys Armanipak, maar, jammer om dit so brutaal te stel, waaragtig nie in die hartjie van die enjinkamer nie.

Ek is ook nie anti-Habana nie. Hy was skitterend toe hy op sy beste was. Hy is ongelukkig nie meer goed genoeg nie.JP Pietersen was bra tentatief. En Morne Steyn? Hy skop suiwer, maar sal sy sokkies moet optrek. Daardie swak verdediging in die “losskakel-kanaal” is sorgwekkend, en sy onvermoe om die bal ver uit te skop wanneer dit werklik saak maak, kan ons nog duur te staan kom.

Fourie du Preez moet ook sokkies optrek. Hy was selde in sy loopbaan so onseker van homself. En Pierre Spies het vanoggend verdwyn.

Jammer as dit alles ‘n bietjie negatief klink terwyl die bier vloei oor ‘n Bok-sege, maar dis hoe hierdie ou in alle eerlikheid sake sien.

Recent Posts

See All
Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

 
 
 
SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

 
 
 

Comentários


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page