Die Kellerprinz-braai in 1981. Die Van Deventer-gesin saam met twee jong kollegas, Tom Ferreira en Deon Meyer, die nimlike.
Deon Meyer is gewis Suid-Afrika se mees gerekende skrywer van spanningsverhale op die internasionale toneel. As groen redaksielid, vroeg in die jare 80 by Die Volksblad in Bloemfontein, was hy ‘n vuur-en-vlam-verslaggewer. Hope entoesiasme was in sy skraal lyf te bespeur.
Ek het al voorheen gespog met die beroemde gees wat Die Volksblad in my redakteurstyd opgelewer het (asof ek iets met sy latere roem te make het!). Ek voeg graag onbeskeie by dat ook Chris Karsten, die kroonprins van Afrikaanse spanningsliteratuur, een van my kuikens was (asof sy latere sukses deur my toedoen is!). Dit daar gelaat.
Nou dat Deon se begindae in die joernalistiek in die jongste Sarie te berde gekom het, kan ek seker maar weer die spogvoet voorsit. Sarie haal die uwe kortliks aan oor Meyer as jong joernalis. Ek gee hom die lof wat ek hierbo uitspreek, maar het in my kommentaar in alle eerlikheid bygevoeg dat ‘n element van verstrooidheid, helaas, ook teenwoordig was.
Nog kort by Die Volksblad, het hy ewe onverskillig mnr. Kosie Pansegrouw – groot gees van Rouxville – tot Piet Pantsegrouw (!) herdoop. Vonke het om die redakteur se kop gespat. Dié het dit met rente afgewentel.
Vir die energieke jong man met die deurmekaar kuif, groot brilglase en sonskyn-glimlag kon jy nie lank kwaad bly nie. Hy was ‘n joviale kollega, en het gou uit die redaksie ‘n kampioen-braaispan georganiseer.
‘n Ouer spanlid onthou hoe hulle gedryf is. Meyer wou wen! Hy het ook – Die Volksblad het die Kellerprinz-kroon losgebraai. ‘n Lekkerlees-poprubriek, Popskop, was sy volgende monumentjie. Tot Advokaat Lang David de Villiers in die Kaap het Deon Meyer se Popskop glo verslind.
Meyer het geglo sy stories móét op die voorblad wees, en het elke berig – hoe gering ook al – gepak asof dit die hoofstorie was. Sy kollegas het hom eers oor dié gedrewenheid gespot. Hul spot het vinnig plek gemaak vir bewondering. Hulle het besef “verloor” was nie in hierdie man se woordeskat nie.
Miskien sy onvergeetlikste Volksblad-storie was ‘n onderhoud met die kanonvoet-losskakel De Wet Ras nadat dié ten gunste van Errol Tobias oor die hoof gesien is vir die Springbokspan. Ras was woedend en het, terwyl hulle gesels, telkens ‘n duif met ‘n windbuks omgeklits. Deon het in kleur en geur daaroor berig.
Elke dooie duif was in sy storie – tot die ontsteltenis van die sportskrywers. Hulle het gevrees Ras se loopbaan is daarmee begrawe. Dit was darem nie, en die jong Deon het hom met sy voorbladstorie onderskei as die begaafde joernalis wat hy inderdaad was.
Deon, ek salueer jou. Ryg nog vele treffers uit. (HvD)
Naskrif: Goeie of slegte nuus, maak jou keuse – ek is egter nog nie klaar geskryf oor die Van Deventers se bosvakansie nie. Staal jou vir ‘n volgende aflewering na hierdie kortstondige onderbreking!
Comments