top of page
  • Uitmelkbos

KOS MET ‘N “T” IN


‘n Vriendin van my vrou, Tokkie, het haar man altyd bederf met die sappigste skaapvleis van haar pa se plaas in die Vrystaat af. Daardie vent, wat nie ‘n reuse-salaris verdien het nie, was ‘n regte lekkerbek en het wyd en syd verkondig hy eet net skaapboud en die beste tjops.

Op ‘n dag sit sy vrou vir hom blad voor. Hy trek sy neus op. Sy kap hom toe: “Piet, as jy self vir die vleis betaal het, sou jy die skaap se agterent ook geëet het.” Sy het ‘n ander woord vir “agterent” gebruik – een wat begin met ‘n “p”. Doodskoot!

Daardie “p”-storie kom by my op toe ek die skokkende vermorsing van goeie kos op die foto’s sien. Dit kom van ‘n kragsentrale op Ellisras. Die werkers se kospakkies wat hulle elke dag verniet ontvang, is met minagting na die bestuur geslinger, omdat die kospakkies nie, volgens ‘n beweerde ooreenkoms met Eskom, ná ‘n jaar met gekookte kos vervang is nie.


Daar is seker woes getoi-toi en gedreunsing terwyl die onwaardige kos-rondsmytery hom afspeel.

Ek meen ek bespeur goeie vleis en broodjies tussen die rommel, en kry weer daardie sinkende gevoel wat die afgelope tyd al hoe erger by my opstu.

Watter kaliber mense mors so met kos? Moenie my kom vertel iets of iemand anders is daarvoor te blameer nie as hul eie skreiende gebrek aan waardes, beskawing en basiese ordentlikheid.

Dieselfde hartverskeurende, moedknakkende gesindheid tref jy ook aan by bedelaars wat by jou voordeur aanklop en kos vra. As jy vir hulle ‘n broodjie smeer, smyt hulle dit neer. Hulle soek vleis … of, eerder nog, geld waarmee drank gekoop kan word.

As iemand met gesag uit eie geledere nie hierdie willewragtigs in die bek gaan ruk nie, gaan ons in hierdie liewe landjie van ons nog baie trane stort, vrees ek. Maar waar is die leiers wat bereid is om op te staan en getel te word?

Kom ons los dit maar daar. Ek sluit liewer hierdie betoog, maar wil darem nog net, as laaste

kommentaar op die toneeltjies op die foto’s, die woorde van ‘n klassieke oud-kollega in herinnering roep as iets hom buitengewoon dwars in die krop steek. “Dis om van te ….,” het hy altyd gesê. Dan het hy bedoel “om van te braak”. Die woord wat hy gebruik het, begin egter met ‘n “k”. Trouens, dis die woord “kos” met ‘n “t” in.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page