Kosblik, saamgestel deur Nicole Jaeckel Strauss. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke) Die lekkerte van ‘n Herman Lategan-resensie is dat hy so polemies en uitdagend skryf. Jy wil reageer, op baie dinge. Self wil ek hom koggel oor sy ophef oor ‘n cliché in die openingsin, terwyl hy self lekker wei onder die goed. Harde hou in die kosmandjie, nè. Sodra ek Kosblik self gelees het, sal ek waarskynlik luidkeels met hom saamstem oor die bydraes wat hy loof, maar nóú wil ek voorlopig roerend met hom saamvra hoekom iemand soos Peter Veldsman nie in hierdie boek is nie. Sy opmerking oor die afwesigheid van “bruin en swart” Afrikaanse stemme is waarskynlik die een wat die meeste reaksie sal uitlok. Dit is ‘n vraag wat net deur die samesteller van die bundel beantwoord kan word, op dieselfde manier as wat net Rapport se Boekeredakteur sal kan verduidelik hoekom sy ‘n wit resensent gekry het om hierdie boek te resenseer. Dit sal interessant wees om albei antwoorde te hoor! Natuurlik steek daar ‘n dik stuk moedswilligheid in Lategan se vraag – sy lys van moontlike swart en bruin bydraers bevat verskeie name van skrywers wat nog nooit met die maak van kos geassosieer is nie, en ook nog nooit daaroor geskryf het nie. Hy is net besig met duimsuig. Maar dit bevat ook name van mense wat wel al oor dié onderwerp geskryf het, wat die geldigheid van sy vraag onderstreep. In sy geheel dus eersteklas Lategan, om n nuwe cliché te poneer.
Evolusie, wetenskap en geloof, deur Jaap Durand. Resensie: André Bartlett (Boeke24) Dis regtig gaaf dat Boeke24 nie vir George Claassen gekry het om hierdie boek te resenseer nie. André Bartlett bespreek Jaap Durand se analise van die lewensverhaal van Teilhard Chardin met ‘n kalm gemoed en hoop uiteindelik die boek gee ‘n “nuwe stuwing aan die gesprek oor geloof en wetenskap”. O ja? Is daar ‘n kat se kans (jammer, mnr. Lategan) dat die “sekere ateïstiese wetenskaplikes” na wie Bartlett in paragraaf twee van die resensie verwys, sal rustig kloek oor hierdie boek en verder gaan skrop in hul studeerkamers?
Aantrekkingskrag, deur Deon Opperman. Resensie: Danie Botha. (Boeke24) ‘n Besielde besluit om my ou ADK-mater Danie Botha te vra om hierdie dramateks te resenseer. Hy ken die verhoog, en hy is oud-uitgewer. Hy besef hy bespreek die essensie van die toneelstuk – die teks sonder interpretasies deur regisseur en spelers, sonder die die omstandigheid waarin die gehoor hulle bevind en wat hul interpretasie kan verwring of verskerp. Die resultaat is ‘n bespreking wat vir koerantleser sowel as dramaturg van groot nut is.
Hartepad, deur Gerrit Rautenbach. Resensie: Theo Kemp (Boeke24) Theo Kemp is in die eerste plek ‘n skrywer, en hy kyk met ‘n skrywer se bedeesde oë na Gerrit Rautenbach se reisverhale. Die kritiek wat hy lewer, sal sekerlik ‘n neerslag vind in Rautenbach se aanpak van sy volgende publikasie. Goed en wel, maar ek sou meer oor die grein van die bundel wou weet – meer oor die hongersnood en die wilde natuur waarna hy in die verbygaan verwys. Of is dit juis Kemp se strategie om ons nuuskierig te maak?
Comentários