Daar was in vandag se Burger ’n ontstellende beriggie deur Rajaa Azzakani. Azzakani vertel die volgende oor Zuma se nuwe kabinetaanstellings:
Bathabile Dlamini, die nuwe minister van maatskaplike ontwikkeling, is voorheen skuldig bevind op ’n klag van bedrog wat R254 000 beloop het.
Barbara Thompson, die nuwe adjunkminister van energie, is skuldig bevind aan bedrog van meer as R170 000.
Malusi Gigaba, die nuwe minister van openbare ondernemings, het onder skoot gekom toe hy in 2007 ’n onderneming bestuur het vanuit sy kantoor as adjunkminister van binnelandse sake.
Marius Fransman, die nuwe adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, word tans ondersoek vir die enorme bedrae geld wat sy departement aan konsultante betaal het toe hy nog die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke was.
Eish. Nou wonder ’n mens hoekom Zuma en Siyabonga Cwele so hard probeer om die nuwe wet op geheimhouding deur te voer. Dié einste Cwele se vrou is tans in die hof oor haar beweerde gebruik van dwelmmuile om kokaïen te smokkel.
’n Mens wonder hoe die kurrikulum van Toni Yengeni se leierskapskool daar uitsien? Dit wil al lyk of die volgende dalk op die eerstejaarprogram moet wees:
Korrupsie 101
Toesmeer 101
Blingaankope 101
Dis nou tot Zuma en Cwele hulle nuwe wet deurvoer, dan kan Toesmeer 101 verval en die kandidate kan meer tyd spandeer aan die ander twee.
O, die blye tyding!
コメント