Daardie winter was bitter – in koerante bekend as The Big Freeze.
“Where d’ya sleep? D’ya have a tent?”
Keer op keer moes die Van Deventers dié vraag van dronkgeslaande Amerikaners beantwoord wanneer ons met ons kompakte stasiewa ’n woonwakamp binnery en ewe manhaftig tussen hul massiewe ryhuise – inderdaad wonings op wiele – kom parkeer.
Dat ’n mens – of liewer vier mense! – agterin so ’n kompakte stasiewa kon slaap, was vir daardie nasie uiters koddig. Hulle hou van hul gerief. Maar dikwels was ons soort slapery juis die aanknopingspunt vir lekker geselse.
Dit was in 1976 en ons is Amerika toe op ‘n sabbatsjaar. Natuurlik wou ons soveel as moontlik van die land sien – maar so goedkoop as moontlik. Ons koop toe ‘n 1972-model Toyota Corona Merk II teen $1 500, wat daardie tyd ’n bietjie minder as R1 500 was. Inderdaad goeie ou dae!
’n Stasiewa het na ’n goeie keuse gelyk; veral ’n viersilinder. Dit was. Met die staatmaker het ons die land platgery: Noordwaarts tot diep in Kanada, waar ons deur uitgestrekte sneeuvelde moes ploeg; Suidwaarts tot in Key West, die suidelikste punt van die land; soos die kraai vlieg skaars 155 kilometer van Havana af. Ons brandstof het die platsakkerige gesinnetjie nie ‘n plaas se prys gekos nie.
Dosyne kere het ek, my vrou, Tokkie, en Johan (5) en Marisa (3) die agterste sitplek platgevou, ’n matras oopgerol en die slaap van die regverdiges geslaap. ’n Blik sardientjies soos min. Net een nag was daar ’n ligte krisis.
Terwyl die sneeu by die ski-oord Waterville Valley in New Hampshire se White Mountains buite neersif, kry Marisa ’n ongelukkie in haar sneeupakkie. Onvermydelik kring die glipsie gou uit tot nat kolle wat die ander slapers ru uit hul drome wek. Die skok gee ’n kettingreaksie af waarin die vader des huises eers sy kop ongenadiglik teen die dak stamp en daarna die moeder met sy elmboog skuins langs die neus tref. Dit sit haar aan die praat, nie juis in sitkamertaal nie.
Ons onwettige staanplekkie op Martha’s Vineyard.
Die res van die nag verloop bra gespanne met huilende kinders, omgekrapte grootmense, nat komberse en ’n nat winterkoue wat eensklaps deur elke stukkie ondigtheid in die stasiewa se bakwerk begin sypel.
Toe die son daardie oggend oor die sneeubedekte kruin van ons naweekberg loer – eintlik ’n asemrowende gesig – strompel ons moeg, vies, vaak en koud na buite, gaan leen kookwatertjies by ’n barmhartige buurman en drink ons ons Amerikaanse boeretroos asof dit die wonderlikste ding op die aardbol is.
Maar algaande leert men. Toe ons die volgende keer in ‘n wit sneeulandskap ons koppe agter in die Toyota neerlê, weet ek uit ervaring om die kinders te vermaan: kraantjies vannag toe. Met ‘n wysheid bo hul jare begryp hulle die dreigende klank van my stem. So slaap ons toe ongestoord en sorgvvry in ons metaalkokonnetjie terwyl die kwik buite tot dubbelsyfers onder die vriespunt sak.
’n Keer of wat het ons selfs ’n oornaggas gehad: skrywer Hans du Plessis. Hy het hom snags agter die stuurwiel ingewikkel. Soggens was sy litte egter maar stram. Op ‘n besoek aan Massachsetts se Cape Cod besluit hy die oggend: tot hiertoe en nie verder nie. Toe gaan soek hy ’n hotel. Só ontwikkel ’n voordelige sisteem.
Op alle uitstappies daarna verskaf ons die wiele, Hans die badkamer. Daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.
*******************
Uit gister se motorbylae, Motors, in Die Burger
*******************
Een van die eerste kere toe ons met ons Merk II ‘n “trailer camp” opsoek, en ek nog totaal oningewy is oor al die uitnemende geriewe wat ‘n eersteklas woonwakamp bied, vra die man by die hek: “Hook-up?”
Eers verstaan ek nie mooi nie. Toe hy die prys noem, klink dit vir my egter hoogs bekostigbaar. Ek antwoord bevestigend. Eers later sou ek agterkom, dis ‘n kragaansluiting.
Die oggend toe ons padgee, doen ‘n welwillender kêrel diens by die hek. Toe hy ons “trailer” sien, skud hy meewarig die kop. “Ons skuld jou ‘n dollar,” deel hy gul mee. “Julle het mos nie krag gebruik nie”. Hy stop my ‘n amptelike eisvorm in die hand.
Kant en klaar van die hele gedoente vergeet, bring die U.S. Mail ‘n paar weke later ‘n indrukwekkende koevert van die Commonwealth of Massachusetts. Ek skeur dit met bewende vingers oop. Binne is toe ‘n tjek – een dollar.
Amerikaanse winters kan erg wees. Op die eilandjie Martha’s Vineyard kom ons agter baie woonwaplekke sluit vir die seisoen. Daar sit ons toe gestrand, lank nadat die laaste veerboot vertrek het.
Oral langs die pad is boonop kennisgewings wat parkering dreigend verbied: “Don’t even consider it.” Toe moet ons maar rondry totdat dit goed donker is. Later parkeer ek die Toyota onder ‘n akkerboom in ‘n stil woonbuurt langs ‘n leë houthuisie in die dorpie Oak Bluff – nogal een met ‘n lekker omheinde agterplaas vir nagtelike lopies.
In die middel van ‘n salige diep slaap knal iets soos ‘n geweerskoot. Die polisie, is my eerste gedagte. Niks gebeur egter nie. Deeglike ondersoek bring aan die lig ‘n moedswillioge akker het die dak getref. Blerrie akker!
By ‘n kollega, die stoere motorman Fred Schnetler (saliger), het ek ‘n mooi Toyotagrappie gehoor. Dit handel oor ‘n student se meisie wat swanger geraak het. Die tyd het aangebreek dat hulle haar ouers die interessante nuus moet meedeel. Die oggend na hul aankoms het die pa, wat behoorlik deur die manierlike jong man geïmponeer was, hom die plaas gaan wys. Ná ‘n rit deur die boorde in die boer se splinternuwe Toyota Prado is hulle na die pakskure. In die een hoek was ‘n enorme Toyota-dieselenjin wat die kragopwekker aandryf om die pakskure koel te hou. Die Toyota-vurkhysers het netjies op ‘n ry gestaan en in die skuur langsaan was twee Toyota Hino-vragmotors. In die motorhuis was ‘n Lexus (deur Toyota gemaak, natuurlik) en ‘n Corolla. “Oom glo in die Toyota,” sê die student. “Ja, beter kry jy nie,” sê die boer. “Wag, ek wys jou iets.” Eenkant staan ‘n redelik gehawende Toyota HiLux-bakkie. “500 000 kilometer op die klok en hy vat nog dadelik as jy die sleutel draai,” sê die boer. Hy klim agter die stuur in en draai die sleutel. Die bakkie vat – raserig, maar die enjin klink gesond. Dis toe die student ‘n opening sien. “Oom, sê my, is Martie se tweede naam Toyota?” “Nee, hoekom vra jy?” “Ag Oom, ek het haar net so ‘n ligte ou stootjie gegee, toe vat sy!” Onse Merk II het in die hartjie van die winter nie eens ‘n ligte stootjie nodig gehad nie – buiten een keer toe die aansitter ingee, nogal in Manhattan, New York. Moes toe elke keer ‘n skuinstetjie soek om te parkeer dat vroulief Tokkie haar ding kan doen.
Wat my telkens verwonder het, is dat die enjin so maklik kon vat, selfs nadat ’n nagtelike storm ’n vrag sneeu op die kar gegiet het. Dikwels moes ek ons ryding letterlik met ’n graaf losgrawe. As jy die sleutel ’n keer of drie gedraai het, begin die enjin egter rukkerig luier – vir hierdie Suid-Afrikaner nou nog ’n werktuigkundige wonderwerk.
Die berugte winter van 1976–77 met sy sneeustorm op sneeustorm – die “Big Freeze” het koerante dit genoem – het vir ’n oningewyde soms verskriklike probleme opgelewer. In Kanada moes ek ’n keer seker 50 tot 60 kilometer deur ’n sneeuveld kruip teen ’n slakkegang van kwalik meer as 40 kilometer per uur ’n Sterk wind het die sneeu in vlae oor die pad gedryf. Dit is deur elke moontlike skrefie na binne gepers. So ver ’n mens kon sien, was dit wit. Langs die pad was talle motors wat in sneeubanke vasgery of sommer net steeks geraak het. Met die Merk II het ons deurgedruk en by ons bestemming aangekom; sopnat van die sweet maar ongeskonde.
’n Roes op Amerikaanse motors is die sout wat op die paaie gestrooi word om die sneeu te laat smelt. Dit laat gate in die bakwerk val, veral op die modderskerms. Ook die Merk II het deurgeloop. Toe ek aan die einde van die jaar in Boston se koerante adverteer, was die kopers egter volop. Ná ’n jaar se harde werk en sowat 24 000 kilometer op die meter is hy vir $1 000 verkoop
Vir die koper was dit ’n “nice car, hey?” en klaar. Ek meen ek sou $1 200 kon kry as ek nie so haastig was nie.
Party motors sit diep in ‘n man se geheue en in sy hart. Daardie Toyota se nommerplaat met die registrasienommer 483-378, Massachusetts, is hier net om die draai van waar ek sit teen ‘n sypaneel van my boekrak vasgeplak. Wys hoe lief ek my kar gehad het.
Comments