- Uitmelkbos
Kontreie naby en ver
Kloek reseppe & bak stories, deur Hetta Hager. Resensent: Karin Brynard. (Rapport Boeke) Skeerhuisstories, deur Don Horn. Resensent: Karin Brynard. (Rapport Boeke) Kontreitaal amuseer baie mense. Kontreigewoontes en -gebruike ook. Soms voel mens jy moet van dieselfde kontrei kom om boeke daaroor na behore te waardeer, anders kan dit vrek vervelig wees. Maar as Karin Brynard – mens moenie vergeet sy was lank joernalis nie – sulke boeke bespreek, dan huppel jy deur die resensie en vandaar pyl jy reguit winkel toe. In hierdie twee gevalle sal jy ‘n e-pos aan die skrywer moet rig om die koop beklink te kry. Te oordeel aan die manier waarop sy hierdie boeke bespreek, en die lengte van die resensies, is die boek van Hetta Hager die een wat die moeite wat jy gaan hê om dit in die hande te kry, beslis werd maak.
Swart op wit, deur Annelie Botes. Resensie: Annemarie van Nierkerk. (Rapport Boeke) Die een ding wat ‘n mens algaande begin agterkom van Annelie Botes, is dat sy een van daardie rare mense is wat nog nooit verveeld by die huis gesit het nie. Daar’s altyd iets aan die gebeur. Soms vir haar nie so lekker nie, soos die slag toe sy ‘n uiters ongevoelige opmerking oor swart mense in ‘n onderhoud met Rapport gemaak het. Die nadraai daarvan is blykbaar die insident wat hierdie boek die meeste gevoed het. Annemarie van Niekerk skryf met begrip daaroor, en versuim nie om te vermeld of die geweldige negatiewe reaksie op haar opmerking ‘n kentering gebring het by Botes nie. Van Niekerk plaas dit ook in konteks – ‘n positiewe ontvangs wat waarskynlik vir Botes groot verligting sal bring. Wat is narsisme maar ‘n wonderlike ding.