As jou senuwees so dun gerafel is soos ‘n verslete garingdraadjie, bly ver weg. Het jy egter senuwees soos staal, solied soos ‘n treinspoor, moenie aarsel nie – dis jou kos! As jy een van laasgenoemde is en jy’t nie geld vir fliekkaartjies oor hierdie tyd van die maand nie, gryp die hamer en slaan jou spaarvarkie stukkend. Jy durf nie wegbly van Tony Scott se meesterlike aksiedrama “Unstoppable” nie. Dis meesleurend.
Die storie is op die waarheid gegrond, net ietwat gedramatiseer. ‘n Wegholtrein, nommer 777, met ‘n massiewe diesellokomotief en 47 waens vol toksiese chemiese stowwe gaan sonder drywer op loop. Dit verg uiteindelik bomenslike heldedade om ‘n enorme ramp af te weer terwyl die gevaarte onstuitbaar deur stasietjie na stasietjie snel, op pad na die digbevolkte Stanton, met sy gevaarlike brug.
Die atmosfeer is gelade. Televisiekanale is daar met swiepende helikopters om die skouspelagtige stuk werklikheids-TV uit te saai. Spoorwegamptenare jaag soos malmense met brullende monsterbakkies. Polisiemanne sak magteloos in konvooie toe op die noodlotspoor. Om sake te vererger, bevind ’n trein vol uitgelate skoolkinders hom ook in ‘n stadium op dié trajek. Krisis op krisis!
Treine is seker nog nooit voorheen so realisties gefotografeer nie. Die tonele is so werklik dat jy kan sweer dis in 3-D. Jy verduur om die beurt skok, angs, spanning en roue emosie, want in die lokomotief wat die voortsnellende 777 in ‘n noodlotstog agternasit klop twee seer harte. Hul verhale is aangrypend.
In “Unstoppable” word helde gebore; ook anti-helde. Mense van staal neem dapper besluite. Ander se ruggrate verkrummel onder die druk. ‘n Kort epiloog lig die sluier oor wat van sommige hoofkarakters geword het. Een swakkeling verkoop kitskos; ander verdwyn in die niet.
Maar daardie dinge is alles bykos – dis daai treine, ou maat, dis daai treine wat jou hart laat hamer, jou handpalms laat sweet en jou sitvlak ongemaklik op die puntjie van die fliekstoel laat rondskuif.
Rofweg soortgelyke gegewe was al op die silwerdoek. Onthou julle “Runaway Train” (1985) wat die storie vertel van twee ontsnapte bandiete en ‘n vroulike spoorwegwerker op ‘n wegholtrein wat deur die sneeuvelde van Alaska voortploeg? Onthou julle “The Taking of Pelham 123” (2009), nog ‘n Tony Scott-prent, oor die kaping van ‘n New Yorkse moltrein? Onthou julle “Speed” (1994) waarin ‘n jong polisieman die passasiers moes red op ‘n bus met ‘n bom daarin wat gestel was om te ontplof as die bus se snelheid onder 50 mpu daal?
Almal was heerlik en propvol aksie. Maar “Unstoppable” plaas vir hierdie aksievraat in hierdie genre die kroon. Dit gaan ‘n fliek tienduisend kos om hom as Koning van Aksie te onttroon – en dit sonder dat een onwerklike reuse-draak tonge vuur van ‘n ander planeet af spoeg of ‘n regiment mismaaktes teen die aarde oorlog verklaar. Glo dit as jy wil.
Comments