Die Camry kom terug! Baie Camry-eienaars sal vir jou sê: maar die Camry was mos nooit weg nie. Dis net dat nuwe modelle nie die laaste jare bygekom het nie.
Sou graag wil weet hoeveel Camrys is nog in Suid-Afrika op ons paaie. ‘n Mens sien amper elke dag een – almal met honderde duisende kilometers agter die blad. Wyle swaer Fanie het ook een gery. Was ‘n bielie van ‘n kar.
Het een keer gehoor ‘n Camry van die sakeman Whitey Basson – sy motor in die Baai – het al drie miljoen kilo’s gedraf. Kan nie instaan vir die storie nie. Een veteraan met 1,3 kilometers op die klok ken ek egter goed. Was trouens al self agter sy stuur tussen Sabiepark en Skukuza-lughawe. Voel of jy ‘n skip stuur.
Die bloubloed-motor – toevallig ook blou geverf – is die boskar van oud-kollega Philip van Rensburg van Sunset Beach, Kaapstad. Die wildtuin se omgewing is nie vir die “koning Camry” vreemd nie. Voor sy permanente verskuiwing daarheen het Philip-hulle minstens 26 keer met hom pad gevat wildtuin toe.
Die blou Camry is ‘n 1995-model. Was Philip se werkmotor van 1995 tot 2012. Hy het toe vir hom ‘n Lexus gekoop. In Junie 20012 het hy die Camry van Kaapstad na Sabiepark verskuif. Sonder enige probleem hoegenaamd die 2 000 km gery. In Sabiepark werk die ou nou vakansietye kliphard. Philip en Nance is elke dag in die wildtuin met hul reuse-lense.
Sedert 2005 het die Camry nege keer tussen Kaapstad en Sabiepark gehardloop – ‘n paar keer danksy die Nationwidedebakel. Onthou julle nog? Die bokkers skuld my ook nog my geld vier vier kaartjies Nelspruit toe, boonop retoer.
Ek wonder of ‘n ander motor nog op die pad is wat meer kere oor ‘n langer tydperk die Krugerpark besoek het. Sy eerste besoek was in September 1995. Daarna tot in 2002 minstens een keer per jaar. Tussen 2002 en 2005 het Philip-hulle nie die park met die Camry besoek nie, maar weer van 2007 af – rofweg geskat sowat 26 besoeke. Philip het vanselfsprekend ‘n baie sagte plekkie vir daai flukse staatmaker van hom.
Sal lekker wees as iemand vir ons Camrystories wil opteken. Ek dink daar is genoeg vir ‘n bundeltjie. Het een keer bv. in Weg gelees van ‘n ou wat sy aandete – die een of ander hoendergereg – onder sy enjinkap gaargemaak het terwyl hy bedags in die wildtuin wild soek.
Comments