
As ek die horlosie 20 jaar kon terugdraai, sou uit die redakteurspen drie buigings na kollegas by Die Volksblad op die kennisgewingbord verskyn het. Daardie kennisgewingbord is spesiaal deur die uwe in die lewe geroep om pluimpies uit te deel en, by geleentheid, doringdraad deur sekere agterente te trek.
Ek sou vir Chris Karsten, kreatiewe hoof van tuiskoerante (destyds), ‘n pronkveer wou gee vir sy benoemings vir twee ATKV-Woordveertjies: die prys vir spanningslektuur én die grote, die ATKV-prosaprys.
Toe ek lees “’n reeksmoordenaar met ’n ding vir sagte, maagdelike, vroulike vel het vir Chris Karsten die Woordveertjiebenoemings in die sak gebring”, het ek dadelik gedink: “Ja-nee, dis onse Chris”. Tipies ‘n tema waarmee die amper inkennige seun van Morgenzon, Mpumalanga, sou kon woeker!
Diepe waters, stille grond ….
Chris is die enigste skrywer wat in twee kategorieë benoem is. Die benoemings is vir Abel se ontwaking, die eerste aflewering in sy trilogie oor die reeksmoordenaar Abel Lotz. Abel se lot het onlangs verskyn.
‘n Pronkveer sou ook gaan aan die jong verslaggewer Deon Meyer (natuurlik ook destyds), ’n naam wat daardie tyd op Die Volksblad se voorblad geboer het soos vandag in die wêreld se boekwinkels, danksy sy slag om ‘n ding raak te sê en ‘n storie te vertel.
Deon Meyer, in wie se toonkaste, al hoeveel internasionale pryse pryk, het hierdie soveelste benoeming te danke aan sy nuwe boek Spoor.
Chris en Deon se boeke het albei verskyn by Human & Rousseau.
Ek sal op 9 September wanneer die wenners op Nooitgedacht buite Stellenbosch aangekondig word, hier op Melkbos duim vashou vir daardie twee top-oud-kollegas en my ook so ‘n stukkie trots laat welgeval oor die klein bydraetjie wat HvD se kommentare van destyds – nie altyd net lof nie! – dalk bygedra het om hul talente te laat blom.
‘n Derde pronkveer sou ek wou uitdeel aan die uitblinker-verslaggeefster Henriette Anderson (nou Henriette Loubser), wat in die joernalistiek soos ‘n sweefstokarties van hoë baken tot hoë baken sweef. Nadat sy as groentjie by Die Volksblad gou haar merk gemaak het, was sy onder meer nuusredakteur van Huisgenoot en senior-assistentredakteur van Sarie. Nou word sy adjunk-redakteur van Die Burger, vlagskip-dagblad van Media24.
Dis ‘n groot uitdaging wat sy aandurf, maar ek ken Henriëtte se staal – en sy kom darem ook ‘n uit ‘n “fabriek” wat vir die Pers groot kanonne opgelewer het. Geluk, Henriëtte, en voorspoed – ek gaan jou stempel soek as ek soggens my Burger by die voorhekkie optel (of, liewer, as Tokkie dit vir my bed toe bring!)
Onthou net die ou man se leuse: nuus, nuus, nuus – dis die hartklop van ‘n koerant!
Naskrif: Nog ‘n Volksbladder, Jaco Jacobs, word deur die ATKV vir jeuglektuur bekroon. Ek sal darem nie só voorbarig wees om vir my eer op te eis nie. Jaco het ná my tyd daar aangekom. Nietemin …..
תגובות