top of page
  • Izak de Vries

Kom ons sit sommer by die tafel


Kom sit gou hier by die blog dat ek julle kan vertel van ’n verstommende boek wat ek pas klaar gelees het. Erns Grundling, eens van LitNet, het die manuskrip gelees en gesê: “Absoluut mind-blowingly befok”. Ek glo nie ek kan dit beter stel as Erns nie. Al wat ek dus kan doen is om oor die boek, Kom ons sit sommer by die tafel, een ander te sê.

André le Roux is ’n joernalis wat sy strepies verdien het voor die internet. Vandag kan joernaliste in Washington sit en heel gemaklik stories skryf oor die oorlog in Irak. Of, nog meer vulgêr, hulle sit in Irak, veilig in die Groen Zone, en stuur al die snert wat die army dikteer terug huis toe: “At the front” se agterent.

Kyk net wat Zapiro met hierdie moderne soort joernalistiek doen. Die Amerikaners noem dit “embedded journalism”.

Nou, kyk. As jy moeg is vir hierdie soort joernalistiek, dan is Kom ons sit sommer by die tafel vir jou. André le Roux vertel ons van die “been there, saw it, smelled the blood”-tipe joernalistiek wat ons ook in die semenale boek, The Bang-bang Club van Greg Marinovich en Joao Silva, gesien het.

Die verskil tussen is egter dat Le Roux ons op ’n fiktiewe reis neem deur die lewens van ’n hele aantal mense. En dan gooi hy harde, feitelike geskrifte tussen in om kommentaar te lewer op sy stories.

Die boodskap word nooit gesê nie. Show, don’t tell, is wat vele jong skrywers gereeld hoor. Hulle kan Le Roux se boek lees as hulle wil weet hoe.

Die boek wissel tussen tonele van eksplisiete seks, totale, morose niksseggendheid in die gesprekke van dronkies in kroeë, tot die kil metodes van marteling en die manier waarop die martelaars daarmee saamleef. George Bush het marteling weer mode gemaak, en só lewer hierdie teks op vele vlakke kommentaar: Dit wat was, kom weer. Dit sal ook weer kom, want die mens is ’n anderste een.

Ons word geneem na Mandraxhole, opehartoperasies, die binnekamers van prostitute, die werkplekke van martelaars, vuil plattelandse kroegies, stinkende selle van verbeteringskole ... Kortom, ons síén die beats wat die joernalis loop.

Ek dink Kom ons sit sommer by die tafel is een van die jaar se groot gebeurtenisse. En die feit dat dit soomloos ’n bundel van twintig jaar gelede, naamlik Sleep vir jou ’n stoel nader, kon opslurp en weer vars aanbied in 2008? Wel, die wêreld draai stadig en die mens verander min. Wat meer is, goeie boeke bly voorwaar aktueel!

Koop dit as jy ’n goeie joernalis wil sien werk.

1 view

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page