top of page
  • Izak de Vries

Kom loop kaalvoet verby skilderye op die KKNK

En kom drink koffie saam met my! Protea se span gaan weer die KKNK tref – in mufti, en verkieslik kaalvoet.

Die grootste lawaai, stof en dieseldampe gaan kom van die Voetspore-span. Hulle gaan van 2 tot 9 April ’n stalletjie by die Oewergebied langs De Jager Sportkompleks. Gaan loer in (die wyn is lekker ;-).

Maar dis nie al nie. Teen ’n prys van R250 kan jy saam met Johan-hulle gaan 4×4 ry, demonstrasies meemaak en ’n heerlike ete geniet (die wyn is ook lekker ;-). Kyk net wat Johan-hulle daar in die Doodsakker aangevang het!

Koop dan sommer hul boek Voetspore, van Casablanca tot die Kaap. Dit is ook by ons aanlynwinkel te koop.

Wat meer is, jy kan Donderdagaand die amptelike bekendstelling van hierdie boek bywoon. Louis Smit gaan dit saam met Johan-hulle doen – ek gaan daardie aand olifante jag met my kamera. (As jy nou nog nie weet dat Johan lekker wyn het nie, moet jy maar sy boek op ’n ander plek koop!)

Philip de Vos, daardie skynbaar nimmer-immer-moegnie rympiesman, en Tertia Visser-Downie tree ook by die KKNK op. Tertia speel Moessorgski se “Prente by ’n uitstalling” en Schuman se “Kindertonele”. Philip lees dan sy rympies voor wat hy geskryf het om by die musiek te pas. Verlede jaar het Philip en Tertia ’n Woordfeesprys gewen vir ’n soortgelyke vertoning, so moenie dit misloop nie. Ek gaan daar wees!

Die boek? Volgende jaar!

En wie kan dan nou vir Amanda Strydom mis? Sy het meer as een vertoning aan hierdie jaar.

Maandagaand om 22h00 gaan ek my ou vriende Wim en Danie van Jamstreet ondersteun – en na Amanda luister wat gaan sing tussen beelde van Lidi van Schalkwyk. Van Schalkwyk het hierdie beelde spesiaal geskep om by Strydom se musiek te pas. Die kaartjies kos net R100.

Wim en Danie is wonderlike gashere, so sak toe op hul plaas! Ek gaan daar wees.

Amanda Strydom het ook met Deon Opperman en Janine Neethling saamgespan om “Binnekamer” te skep. Julle weet hoe goed Amanda en Janine op die verhoog is. Go for it! Kaartjies kos net R120 en die optredes (5–9 April) is in die Gimsaal te sien.

En koop Amanda se boek! Kaalvoet is op die rakke. Koop dit en vra haar om dit te teken. Dit is ook by ons aanlynwinkel te koop.

Nou vir ander uitgewers wat ook spore maak by die KKNK. Elzabé Zietsman doen ’n verwerking van Marita van der Vyver se Dis koue kos, skat. Ek doen moeite om na Ziets te gaan luister elke keer as ek die KKNK tref – en hierdie keer gaan ek ook!

Dan moet julle Lapa se stalletjie dophou. Hulle doen ontsettend veel om hul kinderboeke te bemark.

Moet ook nie vergeet van die amptelike Boekgeleenthede wat Susan Samuel so pligsgetrou reël by die KKNK nie.

Vir meer inligting, en besprekings, gaan na die KKNK se webruimte.

0 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page