top of page
  • Uitmelkbos

KOEVERTE VAN BE-TEKEN-IS


Was dit Piet Koornhof, altyd reg met ‘n grappie ten koste van homself, wat vertel het dat ‘n seuntjie hom eendag gevra het vir 12 handtekeninge. In sy skik, wou Dr. Piet toe weet: ”Hoekom twaalf?” “Omdat ek twaalf van Oom s’n kan verruil vir een van Mannetjies Roux!”

Sporthelde is natuurlik van die voorste teikens vir handtekening-jagters, en beroemde Springbok-rugbyspelers soos Mannetjies was in sy tyd buitengewoon in aanvraag (sien my vorige blog: “Teken tog net hier, toe!”).

My vriend Herman le Roux het hom as skoolseun selfs nie deur ‘n heining van minstens twee meter by die swembad in Durban laat stuit nie om Joan Harrison se handtekening te kry. Of ure in 1948 voor die Handelshuis op Villiers vir Johnny Ralph gewag het om syne te kry. Ralph was ‘n handlsreisiger vir beskuitjies.

Maar moenie dink dat die handtekeninge van presidente (of waarnemende presidente soos die kleurryke dr. Piet inderdaad in ‘n stadium was), militêre swaargewigte en selfs maatskaplike en godsdienstige leiers nie ook versamelwaarde het nie. Party is sommer baie waardevol, pappa!

Pas net op, nie elke handtekening is wat dit voorgee om te wees nie. So word ‘n mens in Wikiipedia op die internet met vers en kapittel gewaarsku.

Sommige belangrike mense gebruik sekretarisse of sekretaresses om namens hulle te teken. In die eerste maande van die Tweede Wêreldoorlog het die Amerikaanse stafhoof George C. Marshall byvoorbeeld nog verplig gevoel om elk brief van deelneming na die dood van ‘n soldaat self te teken. Later het die sterfgevalle hopeloos te veel geword. Een of twee assistente moes instaan met goeie namaaksels van die generaal se handtekening.

In 1952 het die Amerikaanse presidentskandidaat Dwight Eisenhower sonder skroom sekretarisse gebruik om sy handtekening te “vervals”. Toe hy in die jare 40 nog akteur was, het Ronald Reagan selfs sy ma namens hom briewe aan bewonderaars laat teken. Wonder wat hy gedoen het toe hy president was!

Sedert die vroeë 50’s het Amerikaanse presidente in elk geval reeds ‘n sogenaamde “autopen” of klein robotmannetjie gehad om hul briewe, foto’s, boeke en selfs sekere amptelike dokumente te teken, lees ek in Wikipedia. Sedert die 60’s het daardie gebruik vinnig uitgebrei onder belangrike mense met ‘n hoë volume korrespondensie.

‘n “Autopen” is nie die enigste kortpad nie. Joseph Stalin het sommer ‘n laai vol rubberstempels met sy handtekening gehad. Nikita Chroesjtsjof ook.

Maar waarheen is ek met hierdie inligting op pad? Dis maar net om weer te spog met nog ‘n (vermeende) versamelstuk van waarde. In die vorige blog het ek vertel van die klomp rugbykapteins wat op die vooraand van 1995 se wêreldbeker-rugbytoernooi vir Herman (en vir my) die spyskaart geteken het. Maar ek het ook eerstedagkoeverte van pres. Nelson Mandela se inhuldiging op 10 Mei 1994, geteken nie net deur die Groot Man self nie; ook deur sy twee adjunkte, F.W. de Klerk (wat sy voorganger was) en Thabo Mbeki (wat hom opgevolg het). Dis voorwaar koeverte van be-teken-is!

Nols Nieman wat in daardie stadium parlementêre verslaggewer van Die Volksblad was (ek meen sy titel is nou assistent-redakteur of senior assistent-redakteur) het op die uwe se versoek ewe fluks met die koeverte van presidensiële kantoor tot presidensiële kantoor geloop en die vername handtekeninge daarop versamel. Op die een koevert is die R1,15-seël van daardie tyd (foto van die Uniegebou), asook die 95c-seël (die nuwe landsvlag), die 70c-seël (die Stem en Nkosi Sikelel I’Afrika langs mekaar) en die 45c-seël (‘n glimlaggende Mandela). Die tweede het die R1,15-seël plus die spesiale R5-munt wat met die oog op die inhuldiging geslaan is.

Die twee getekende koeverte is geraam en hang bokant my boekrak met my uitsoekboeke. Iemand wat meer van hierdie klas ding as ek weet, sal waarskynlik ‘n waarde daarop kan plaas. Ek dink darem ek behoort minstens twaalf van Mannetjies Roux vir een hiervan te kry – nie andersom nie!

Miskien is hierdie ou gryse blogger nog onwetend ‘n versamelaar van faam en sit ek al die tyd op ‘n pot goud hier in Melkbosstrand!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page