In “Duisend dae” vertel ek van Annette van Rensburg en die geverendheid wat in Olifantskamp op haar kop getjorts het. Ons goeie vriendin was nogal verontwaardig. Gister bel sy en ons lag saam oor die insident.
Annette en haar man, Chris, is van die Wildtuin na ‘n broer in Kemptonpark naby die casino, vertel sy. Volgens hom moes sy dadelik ietsie gaan waag .. so ‘n blertsie op die kop beteken geluk. Wens ek het die stertjie geken toe ek die boek geskryf het.
In elk geval, toe sy dit noem, onthou ek ons Tukkies van doerie tyd (dalk nou nog?) het geglo as ‘n jakarandatjie op jou kop val, kan jy met ‘n singende hart eksamenkamer toe stap. Jou kop is deur … jy ook!
Sou nog sulke gelofies bestaan?
Reendruppeltjies word ook in die algemeen positief ervaar. Onthou u die Oscarwenner-liedjie Raindrops keep falling on my head uit die 1969 treffer-fliek Butch Cassidy and the Sundance Kid? Hulle maak nie meer sulke lekker flieks nie, maak hulle? Fliekmusiek is ook nie meer ewe onvergeetlik nie.
Maar een ding weet ek: as ‘n baksteen jou kranium tref, sou dit in geen omstandighede geluk beteken nie.
En in Amerika het ek in die middel 70’s vir John Painter van Portland, Oregon, leer ken wat altyd vies was as dit in Cambridge, Massachusetts, begin sneeu. Hy kon daardie “white shit” op sy kop nie verdra nie!
Comments