top of page
  • Uitmelkbos

‘KOERANT-BAAS’


Volksblad-era, 1980’s


Ontmoet HvD – “koerant-baas”.

 As dit alte vernaam klink, lees liewer verder.  Die waarheid is dat ek nie Media24 oorgeneem het of een van die paddastoel-ponies in daardie stal  aangeskaf het nie.  Nie eens Melkbos se Easi-Ads nie.

 Ek borg net voortaan die woord “koerant” in die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) op permanente grondslag.  “Koerant” is nou my woord, net my woord, vir altyd en altyd. Onomkeerbaar. Eksklusief. 

 Oud-kollega Ollie Olwagen meen dit maak my ‘n volwaardige koerant-baas, of nee, eintlik die enigste koerant-baas op aarde. Die woord “koerant”, presies so gespel, kom immers net in Afrikaans voor.  Die naaste eweknie is die Engelse “courant”.

 Tot op hede het ek die woorde “koerant” en “joernalis” by die WAT geborg – maar nie so waterdig nie.  Ander borge kon na willekeur bykom. Iemand kon die woorde selfs wegraap deur meer te betaal.

 Gister het ek (met my vrou duisend se aanmoediging) besluit om die bul by die horings te pak.  Ek  sou opgradeer.

 Koerante was immers my lewe. Ek het 36 jaar vir koerante gewerk: eers by Die Volksblad, toe by Beeld (eerste nuusredakteur), toe weer Volksblad (redakteur vir 12 jaar) en daarna Naspers (uitvoerende hoof: koerante). Media24 is eers later gestig. Eintlik langer as 36 jaar. Van 1958 tot 1962 het ek vyf jaar as beurshouer vakansiewerk by Die Volksblad gedoen.  Op Tukkies was ek in 1961 al redakteur van Die Perdeby.


 Die heuglike sensasie daarna  kan ek kwalik beskryf.  Ten minste voel ek ek het iets betekenisvols gedoen.  Iets blywends. Iets wat ‘n mens dalk kon verwag het deur ‘n groot koerante-konglomeraat soos Media24 gedoen kon gewees het, Gedoen behoort te gewees het.  

 Maar ek is dankbaar vir die gaping om dit namens hulle tekandoen – vir plus-minus die prys van ‘n bootvaart na Walvisbaai en Lüderitz.   Dié genotvolle ervaring had ek pas.  Maar die onbetwiste baas van ‘n woord was ek nog nooit. Boonop so ‘n dierbare woord. 

 Kyk, die dag as ek begrawe word, wil ek graag in die eerste instansie as trotse koerantman begrawe word.  As koerantman in hart en niere wat sy loopbaanboek, “Kroniek van Koerantman”, afgesluit het met die woorde uit die hart: “Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie”.

 As eksklusiewe borg van die woord “koerant” hys ek daardie vlag.. Hier staan ek.  By die koerant, soos ek dit ken. Laat “Het daghet digitaal” maar sy vlerke sprei. Laat allerlei “apps” aangelap word. Laat die sosiale media maar al hoe dieper op die tradisionele koerant se lewensruimte invreet.   Aan HvD en sy woord in die WAT sal dit niks doen nie.

 Selfs as die dag sou aanbreek dat die woord “koerant” net in die verlede tyd geskryf word – wanneer eendag in die verre verskiet, wonder ek – sal MY woord in die WAT bly. Dit sal MYNE bly.  

 Selfs as ek al lank in mynisge-kis is langs die NGK Melkbos (disnisnommer 11, vir dié wat wil weet), sal dit leef en oorleef.  

 Koerant. HvD. Ons hoort mos saam. Ek en my passie. Nou is ons. Vir altyd.

#hennievandeventer #WATborgskap #geborgdewoorde #uitelkbos #koerante

2 views

Recent Posts

See All

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

bottom of page