top of page
  • Izak de Vries

Koekie reis met ryskoekie


'n Kar moet 'n pad kan vat, koekerig of te not! Die foto is in die Kruger Wildtuin geneem.

Onthou julle Madlala se se droom oor die Eos? (Sien my blog oor die Sexpo.) Wel, die ou vriend van my droom steeds. So, die ander dag koop hy vir hom ’n kopie van TopCar. Alles goed en wel, tot hy lees wat hulle oor mý ryding sê. Ek ry ’n Toyota Avanza.

Daar staan dit toe: Like rice cakes. Bland, but it fills a need.

En waarvoor het ’n mens goeie vriende? Hy bel onmiddellik vir Kassie, vertel vir hom, en minute later is hulle op my voorstoep om vir my te kom wys.

Nou ja. My vorige motor was ’n derdehandse Diahatsu Cuore met ’n enjin van 1000 cc. Dit was ’n wonderlike motortjie, en ek het ’n langtermyngemiddelde van 5,6 liter / 100 km gekry. Ongelooflik.

Ongelukkig raak ons ander ou kar toe simpel en ek kon nie my vrou daaraan blootstel nie. Ons kry toe vir haar ’n Diahatsu Sirion, wat eweneens ’n uitstekende petrolverbruik het. Maar toe kon die De Vriese nêrens heen gaan nie.

Die De Vriese is nou eenmaal lief vir die buitelug en vir plekke waar gewone mense nie wil kom nie, so die paaie is rof. En, as jy nou al ooit ’n rowwe pad met ’n minimotor aangedurf het as daar ’n gesin en bagasie in is, dan besef jy hoekom ons toe maar besluit om van Izak se geliefde klein motortjie afstand te doen. (Wel, soortvan, my skoonsus het my cute karretjie gekry.)

Izak wou nooit ’n nuwe motor koop nie, maar toe ek die prys van tweedehandse bakkies begin navors, hou ek amper die klein karretjie vir myself.

Een van my pelle beveel toe aan dat ek na die Avanza kyk. Vir minder geld as ’n goeie tweedehandse bakkie, koop ek toe ’n splinternuwe Avanza. Met dié kar ry ek enige roete wat ek wil, hy sukkel nie met klippe nie en dit is deksels suinig op brandstof.

So, duh.

Laat Madlala lag.

En daarmee moet ek sê: Die kar is gepak. Die De Vriese gaan ’n bietjie avontuur soek. My skootrekenaar gaan saam, maar ek gaan hard probeer om weg te kom van die alledaagse. Dit kan dus ’n tydjie duur voor julle van my hoor!

Intussen, mense, dankie vir reis deur die kuberruimte saam met julle. Dis genotvol. Laat die potte kook. Ek gesels weer as die ryskoekie gehelp het om die muwwe gate in my brein toe stop!

(Terloops, as iemand die baas van Toyota ken, sê vir hom hier is ’n blogger wat ’n borgskap werd is!)

2 views

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page