top of page
Uitmelkbos

KOEDOEBAND VIR ALTYD


 Thinus het sy wildplaas met sy groot troppe wild by Vaalwater nooit uit sy bloed geskud nie. Een van sy hartsbesittings was die skildery van die drie koedoes wat hy op sy plaas afgeneem het.  Nog een was ‘n uitvoerige video oor sy heiligdom. Jy kon aanvoel hoe gelukkig die man daar in die veld tussen sy diere is.

 In daardie dae had Thinus nie net sy loopbaan as bankier en sy florerende wildplaas nie. Daar was ook ‘n strandhuis – ek meen amper twee (een by Struisbaai en een aan die Natalse Noordkus), maar ek is nie seker nie.  Thinus was lief vir kragtige lang slap motors.

 Toe hy van die Rand Kaap toe skuif, het hy sy voorliefde vir duur, eksotiese motors uitgeleef met die stigting van Platinum-motors in Durbanweg, Durbanville.  Daar kon jy instap, as jou bankrekening styf genoeg is, en met ‘n eksklusiewe spogkar uitry wat nie vryelik in die mark beskikbaar was nie.  Ski-vakansies in Switserland was die gesin Swart se manier van regtig skoene uitskop.  

 Dinge het amper ongemerk vir Thinus begin skeef loop.  Al hoe skewer en skewer. Die plaas is verkoop en die strandhuis (-e).  Die skivakansies het opgedroog.  Platinum-motors se deure is gesluit. Uiteindelik moes hy en sy kunstenaarvrou, Petro, talentvolle glasblaser en musikant, selfs van hul laaste bastion, hul mooi siersteenhuis met die groot swembad in Duikerstraat, Van Riebeeckstrand, Melkbos, afskeid neem.  

 Die twee het in ‘n beknopte omgeboude motorhuis in die agtertuin van ‘n huis in Duynefontein ingetrek. Hul enigste rygoed wat oorgebly het, was twee fietse. Die twee op hul fietse, rugsakke op die rug, het ‘n bekende gesig op Melkbos geword.

 Presies wat alles skeefgeloop het en hoe dit op aarde moontlik was,  was moeilik om te onsyfer.  Daar was o.m. ‘n groot belegging wat die onderwerp was van ‘n jarelange forensiese ondersoek omdat dit eenvoudig by ‘n groot internasionale handelsbank in dié se labirint strukture en kanale in die niet verdwyn het.  Die rekenmeester by wie die geld belê is, is oorlede en die dokumentasie was vaag.

 Thinus het bly hoop dat daardie geld opgespoor sou word.  Dan het die hoop opgevlam … dan het dit weer begin lyk of die vlammetjie van hoop bra flou flikker. Intussen het sy gesondheid agteruitgegaan.

 Soos ‘n moderne Job het Thinus se teisteringe soos haelwolke opgestapel.  Hy het merkwaardig blymoedig en dankbaar gebly. Sy geloof het nooit gewankel nie. Twee Sondae gelede is hy en Petro op sy inisiatief nog saam met ons kerk toe.  Hy het toe al begin kla van gedurige asemnood.

 So erg het die asemnood geword dat hy op Erfenisdag in die hospitaal opgeneem is. Gister is hy skielik in sy bed oorlede.  Maar net 68 of daar rond gewees.

 Thinus het hoogtes in sy lewe geken, maar ook diep dale – waarskynlik hoër hoogtes en dieper dale as die meeste.  Met sy dood word ‘n mens gepak deur ‘n diepe skuldbesef omdat jy nie meer uitgereik het nie.

 Wat vir Petro voorlê, weet ek nie. Seker na een van die kinders toe.   Thinus en sy sal, hoe ook al, altyd part en deel van die Van Deventers bly – op Melkbos en in Sabiepark.  Een rede is die koedoeskildery op Melkbos.  Nog een is drie besonderse glaswerk-stukke in Sabiepark: ‘n luiperd, rooibok en sebra op glas met hul lewensgetrou spore onder elkeen.

 In ons eetkamer op Melkbos staan ook ‘n riempiestoel uit hul huis.  In die slaapkamer is ‘n matjie. By ons voordeur staan ‘n groot swart seepsteen-buffel (met net een horing) wat eens by hul voordeur gestaan het.  In Sabiepark hang die vel van twee n tierboskatte.

 Al hierdie dinge en ‘n paar ander goedjies het ons gekoop op Thinus en Petro se voorlaaste dag in Duikerstraat. Hulle het die los goed op ‘n sogenaamde “motorhuisveiling” (garage sale) van die hand gesit voordat hulle na die kleiner standplaas sou verhuis. Dit was maar ‘n grou dag vir hulle.  Die pynlikheid was sigbaar. Vandag, ná Thinus se afsterwe, is vir die naastes ‘n nog grouer dag. 

 Ek stap by die Heather Klette verby en lig die hoed vir die dapper stryder met die spontane glimlag en aktiewe humorsin aan wie dit voorheen behoort het – asook vir die soliede Petro wat deur alles lojaal, getrou en ewe blymoedig aan Thinus se sy was.  Die koedoeband is vir altyd.

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page