top of page

KOEDOE-KARNALLIES

Uitmelkbos


Koedoes lyk maar so statig en ordentlik – of botter nie in hul monde kan smelt nie. Hulle kan deksels onwaardig optree – soos wanneer hulle voëlsaad by ons boshuis Tarlehoet in Sabiepark uit die huisie kom gaps of die voëls se badwater kom suip.

Deur die jare het ek verskeie foto’s van albei aktiwiteite geneem. Die koedoes is skuldig, soos aangekla. Daaroor bestaan geen twyfel nie.

Kyk na die twee foto’s hierbo waar koedoe-kuiergaste by Tarlehoet op heter daad betrap is. Dodeliker bewyse kan daar nie wees nie.

Die ongewone koedoegedrag kom al jare, en is deur my die eerste keer in my bosboek “Buurman van die Wildtuin” in 2004 opgeteken.

Die stuk oor die koedoe-karnallies in “Buurman” word hier herhaal:

‘n Gereelde ergernis by Tarlehoet is om die huisies met die voëlsaad in die swartklapperboom by die watergat telkens op die grond te moet optel. Draai net jou rug. Dan kan jy weet ‘n bobbejaan – altyd ‘n gerieflike sondebok — of iets ruk ‘n huisie af. Dikwels is die tou gebreek.

Op ‘n dag kondig Griet (ons huishulp in daardie stadium) aan die skuldige is nie “ ‘n bobbejaan of iets” nie. Sy het met haar “eige oge” gesien hoe kom ‘n koedoe-ooitjie die pitjies gaps. Dit klink ‘n bietjie vergesog, al het ‘n koedoe-ooi inderdaad al die gerief van die voëlbad as ‘n bron van gereelde skoon water ontdek. ‘n Koedoe is mos nie dommer as sebras, blouwildebeeste, duikers en vlakvarke nie.

In die kerk sing ons die Sondag van ‘n wildsbok wat smag na water. Ek stamp aan Tokkie en sy snap wat ek bedoel. Wildsbokke behoort na water te smag. Dis in hul aard. Maar tog nie na pitjies nie.

Nietemin, wawyd-wakker waak ons daarna op die stoep vir die volgende koedoebesoek. Dié kom net ‘n paar oggende later. ‘n Troppie drentel peusel-peusel oor ons werf ooswaarts, piekniekplek se kant toe. Veral een jong koei draal ‘n bietjie. Soek sy dalk die voëlbak met die pitjies wat in die nag op die grond beland het?

Tokkie prakseer gou ‘n nuwe tou uit ‘n ou velskoen se veter. Toe die bak weer hang, is daar dadelik sysies: bloues en rooibekke, maar geen koedoe nie. Ons bly egter op die uitkyk vir daardie koedoe-koei wat na bewering so ‘n bok is vir pitjies. Die kamera byderhand. Te lank laat sy ons nie wag nie. Skaars 24 uur later stap sy doelgerig pitjies se kant toe. Sy gaan staan doodstil tussen die bome. Soos ‘n standbeeld. Totdat sy gerus is dat haar liggrys vel genoeg kamoeflering verskaf, klaarblyklik onbewus van hoe die kenmerkende blerts “oorlogsverf” oor die neus — soos dié van ‘n Rooi Indiaan, sê Tokkie — haar teenwoordigheid telegrafeer. Dan kom die lang tong uit. Met twee vinnige hale vee sy die kosbak se bodem skoon.

Sommer so lê-lê van die swembadstoel af neem ek net foto’s. Me. Smulpaap konsentreer so op die smaaklike versnapering dat sy nie eens die klik-klik agterkom nie. Daarna rond sy haar etetjie af met ‘n paar slukkies vars water, en slenter ongeërgd weg om haar by die res van die trop aan te sluit. Nou weet ons — en het ons ook die getuienis om ongelowige Thomasse hul woorde te laat sluk.

Tot ons verbasing bly die pitjies taamlik lank daardie opportunistiese koei se eksklusiewe geheim. Toe kom Chris van Rensburg (buurman uit Bloemfontein se dae) se “voëlrestaurant” wat dit moontlik maak vir ‘n spul voëls — en ook vir twee koedoes — om saam “aan te sit”. Die “restaurant” word gou ‘n bykomende attraksie, al is ‘n koedoetong ‘n bietjie groot vir die klein spasietjies waarin die saadjies lê.

Maar moet ‘n lekkerbekkige koedoe se vindingrykheid nie onderskat nie! Een dame bemeester gou die kuns om haar tong feitlik dubbel te vou. Eureka, dit glip in! Weldra raak dit twee keer per dag tyd vir verversings.

Elke oggend en elke middag kom die koedoes nou aangesuiker of botter nie in hul mond kan smelt nie. Dan staan hulle nader kosbakke toe. Die tonge kom uit, plat gevou en die saadjies word gretig opgeslurp. Selfs die ou patriarg met sy spoghorings skuif later vir ‘n wyle sy waardigheid opsy en staan geduldig in die ry vir ‘n mondvol pitjies. Ons op die stoep word fyn dopgehou en die bakore staan op aandag vir enige verdagte geluid. Die smullende bokke is egter nie uitermate ongerus nie. Net as ek die kamera optel, staan hulle aanvanklik ‘n entjie tru. Later ook nie eintlik meer nie. Van my skuiling agter die stutpaal van die stoep kan ek maar kiek soos ek wil. Hulle is so tuis, kalm en gemaklik as kan kom.

Een aand om ‘n kampvuur is my storie oor die onwaarskynlike pitjiediewe by Tarlehoet se voëlbak, soos voorheen ook al, deur sommige met kwalik verborge skeptisisme begroet. Een van die teenwoordige vroue – ek onthou haar naam is Magdaleen – snel my toe te hulp met ‘n storie oor ‘n potjie wat sy met ‘n koedoe geloop het. Sy wou brood bak, en sit toe haar deeg in twee potte buite op ‘n warm plekkie neer om te rys. Later hoor sy die geklingel van ‘n deksel wat val. By die agterdeur betrap sy ‘n koedoe met wit slierte deeg aan sy snoet. Die vindingryke “broodwinner” het mooitjies die deksel afgestamp om by die watertand-lekkerny uit te kom.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page