top of page
  • Uitmelkbos

KOEBAAI KRUKKE!


Het paspoort, kan vlieg!

Presies drie weke gelede, op 2 Oktober, was die uwe klappertand in sy ontblotende teaterjurkie in ‘n smal hospitaalbedjie op pad na ‘n heupvervanging.  Vandag het dieselfde man op eie stoom by die Panorama Medi-Clinic ingestap vir die opvolgbesoek aan die ortopeed – sonder krukke.

Ek het uitgestap met ‘n regmerkie by elke vraag op die lysie in my binnesak.  Ja, ek mag weer motor bestuur, op die strand gaan stap, op ‘n sagte stoel sit, voete kruis, bad, in my nomale posisie slaap,  buk om iets op te tel en my eie sokkies optrek. Van vandag af.

Verbasend. Sjoe, maar die ou Hennie is darem  ‘n kampioen. hoor ek vriende sê. Ongelukkig nie waar nie.  Die formule vir die vinnige herstel is nie iewers versteek in ‘n geheime plekkie in my 73-jarige lyf nie, vriende.  Dis 100 persent  in die Amis-tegniek.

Amis beteken Anterior Minimally Invasive Surgery. Die snit is maar 6 tot 8 cm. Jou spiere rondom die heupgewrig bly almal behoue. Bloeding is minder. Pyn is skaars ter sprake.  Die eerste dag is jy op krukke die hospitaalgang af.  Die vierde oggend hoor jy die blye nuus: Jy kan maar huis toe gaan.

 Met ‘n Amis-vervanging kan jy verder staatmaak op groter stabiliteit, vinniger hervatting van normale aktiwiteite, gouer koebaai sê vir jou krukke en minder komplikasies, is die aanspraak. (Vroue het die bykomende voordeel van ‘n kleiner, minder ontsierende letsel aan die bobeen wat verleidelik onder ‘n bikinibroekie uitsteek!)

 My doktersrekening is reeds vereffen. Geen materiële of ander voordeel kan dus behaal word deur die Amis-tegniek hier of elders te bemark nie.  As ek die waarheid onderskryf van elkeen van daardie aansprake wat reeds in my eie geval getoets is, doen ek dit vrymoediglik en met ‘n rein gewete.

 Ek doen dit voorts omdat ek vriende, familie en ander belangstellendes graag op die pad sal lei van ‘n heupvervanging wat so verreweg pasiënt-vriendeliker is as die konvensionele, ou metode (hele bobeen oopgekloof, spiere wat links en regs deurgeknip word, erge pyn, weke op krukke, ens) dat jy die twee werklik nie kan vergelyk nie.

 Sowat 1 000 Amisoperasies is al in Suid-Afrika uitgevoer. Die spilpunt is Kaapstad en Port Elizabeth, maar Johannesburg, Pretoria, Potchefstroom en ‘n paar ander sentrums is ook besig om by te kom. Tog bestaan nog heelwat onkunde en selfs skeptisisme in sekere kringe van die ortodokse mediese wetenskap.

 Onbekend maak onbemind – Amis is ‘n klassieke voorbeeld. Voeg daarby ‘n ruime skoot aartskonserwatisme wat so eie aan ons mense is, en dit is duidelik dat baie oortuigingswerk nog voorlê voordat hierdie wonderlike (Franse) tegniek die eer kry wat dit toekom.

 Wat hierdie uiters tevrede pasiënt betref, is dit Amis of niks. Nee dankie vir die bekender alternatief. Dan sukkel ek liewer hinkepink voort. ‘n Beter mediese besluit as my keuse van Amis het ek sowaar in my dag des lewens nie geneem nie, buiten miskien om af en toe deur ‘n voetdokter gepamperlang  te word.

 Dankie van harte, dr. Jan Joubert.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page