‘n Mens wat nie sy produk adverteer nie, is soos iemand wat in die donker knipoog – net hy weet wat hy doen. Hierdie stukkie wysheid van ‘n advertensie-guru het in my kop vasgesteek.
Deesdae se fliekadvertensies is ‘n voorbeeld van ‘n knipoog in die donker. Teaters adverteer wel, maar nie juis so dat ‘n mens dit kan agterkom nie. Die advertensies word al hoe kleiner, al hoe meer ingeprop en al hoe onleesbaarder – klaarblyklik as besparingsmaatreël.
Sekere owerheidskennisgewings nooi jou uit om dit liefs oor te slaan. Dit herinner aan die fynskrif van ‘n kontrak, en laat jou skepties wonder wat hulle nou weer met watter onheilige motiewe by die publiek wil probeer verbysmokkel.
Om ‘n ding te wil inprop in ‘n lettertipe (font) wat dit vir ‘n groot gros lesers onleesbaar maak, is natuurlik nie nuut nie. In my tyd as redakteur was die perdeblad in elke koerant al ‘n gruwel. Jy moes brand van perdedrif of ‘n versamelaar van vergrootglase wees om dit te absorbeer.
HvD het gou ‘n reputasie gekry dat hy nie ‘n vriend van die perdeblad was nie. Dit het hom in vele oë as ‘n ignoramus gestempel. Kyk dan hoe wed die mense! Perderedakteurs – elke koerant het een gehad, soos daar in die ou ou dae selfs tronkredakteurs was wat namens hul base tjoekie toe moes gaan – kon nie glo dat sulke stompsinnigheid agter die masker van redakteurskap kan skuil nie.
Wel, ek rapporteer dankbaar dat peredeblaaie en perderedakteurs nie meer deel van die koerantopset is nie. “I have not always been wrong”.
Beursblaaie het ook maar in ‘n stadium nie uitgeblink in leesbaarheid nie. ‘n See van verwarrende, klein kodenaampies en syfers, syfers, syfers het selfs gretige lesers maar taamlik afgeskrik. Moet erken: latere geslagte se tipograwe het aan die blad wondere gedoen. Lyk aantrekliker, lees makliker in hul moderne gedaante as die Beursblaaie van die 60’s en 70’s.
Maar terug by fliekadvertensies. Kan Ster-Kinekor (en Metro) nie besef hoe hulle hulleself in die voet skiet as hulle so in die donker staan en knipoog nie? Wonder hoeveel mense bly nie sommer net weg uit frustrasie nie omdat die inligting so onaptytlik opgedis word.
Die antwoord is tog glashelder duidelik: Koop groter ruimte of benut die klein ruimte beter. ‘n Knap, kreatiewe tipograaf sal wel ‘n plan kan bedink.
En koerante? Hulle behoort geen adverteerder toe te laat om hul advertensiesente so te knyp dat dit lesers die harnas injaag nie. Daar behoort maatstawwe te wees van die kleinste skrif waarin inligting aangebied mag word. As ‘n dwase adverteerder kleiner wil gaan, sit die voet dan ferm dwars teen sulke misbruik van jul kolomme. As die bedryf kan saamstaam en algemene standaarde afdwing, des te beter.
Hierdie ou glo: As iets die moeite werd is om te plaas, is dit die moeite werd om so te plaas dat dit nie net adverteerders se gewetens salf nie – dit was mos in! – maar ook vir lesers ‘n diens lewer. Die publiek moet kan sien as julle knipoog, mense – anders: Moenie moeite doen nie!
Comments