top of page
  • Uitmelkbos

KLOKKIES IN DIE NAG

Klokkies lui aaneen in onder andere André Rieu-hulle se orkes-weergawe van daardie aangrypende Russiese volksliedjie “Odnozvuchno gremit kolokolchik” (“Eentonig lui die klokkie”).

Eintlik is dit ‘n lied vir ‘n mannekoor – die Russiese weermagkoor lewer daarmee ‘n kragvertoning – maar Ivan Rebroff gee ‘n mens self ook hoendervel as hy “Klokkie” (terloops, vir Afrikaans gegaps onder die titel Liefste Madelein) met sy diep stem aanhef.

Oor “Eentonig lui die klokkie” sou iemand ‘n blog uit eie reg kon skryf – dis ongetwyfeld die mooiste Russiese volksliedjie (vir my), en daar is baie mense wat glo dis die mooiste melodie van enige volkslied in enige taal. Die lirieke handel oor die wiele van ‘n perdekoets wat oor die eindelose Siberiese steppe voortrol; die koetsier het eers ‘n liedjie gesing, maar het stil geword en nou is dit net die klokkie wat lui, lui, lui.

“Oh, how lonely the coach bell is ringing

As it swings in the night to and fro.

And my coachman has now fallen silent,

And I still have a long way to go …”

My tema is egter nie die liedjie, dis ‘n nag in die hospitaal, gekoppel aan ‘n slaapapnee-masjien, wat in ‘n stadium na my voorland gelyk het. Dis maar ‘n vreemde manier van slaap vir ‘n oningewyde, só met ‘n “snorkel” op jou neus. Ek was heelwat wakker. In my wakker tye het ek die klokkies hoor lui, lui, lui.

Soos ‘n perdekoets s’n op die uitgestrekte Russiese grasvlaktes.

Die titel van “Eentonig lui die klokkie” (“Monotonously rings the little bell “ op Engels) het by my opgekom terwyl ek Woensdagnag lê en wonder watter individuele nood agter elke lui skuil – dalk erge pyn, eensaamheid, verveeldheid? ‘n Mens kan jou verbeelding vrye teuels gee.

Soos op ‘n voortrollende perdekoets in die nagstilte.

Ek het aan ‘n ander hospitaalnag lê en dink: langs my pa (Tony Malan) se sterfbed in die kankersaal van die destydse H.F. Verwoerd-hospitaal in Pretoria. Waar ek by hom waak, het ek sy hortende asemhaling gehoor. Ook die asemhaling van die ander pasiënte, almal doodsiek.

Vroeër het ek ook “U Eie Keuse” gehoor oor die radio langs die bed van die man in die verste hoek van Pa Malan af. Die aanbieder was toe nog Robert Young. Die musiek was gekies asof die aanbieder geweet het van die eensame stryd van ‘n 12-tal kankerlyers in die geslotenheid van ‘n hospitaalsaal op die hoeveelste verdieping van ‘n onpersoonlike hospitaal. Dit was een hemelse lied op die ander.

Later het Robert Young (die koetsier?) se stem stil geword. Die radio is met ‘n klik afgeskakel. Buiten die onrustige asemhaling was die enigste geluide dié van die verpleegsters se voetstappe en natuurlik die klokkies wat lui, lui, lui.

Pa se klokkie het nooit gelui nie. Hy was nie meer in staat om die knoppie te druk nie. Of hy graag sou wou, weet ek nie. Of hy die ander klokkies, enige geluide, nog dofweg kon hoor, weet ek ook nie. Maar hier in die Milnerton Medi-Clinic onthou ek elke klokkie se dringende lui van daardie nag skielik weer met ‘n koue rilling langs my ruggraat af. Die klokkie … dan voetstappe … dan ‘n fluistergesprekkie by ‘n bed.

Het daardie gesprekkies troos gebring? Het dit hoop gebring? Het Woensdagnag s’n troos of hoop gebring in al die kamers rondom my waar ek in bed nommer een lê en wens ek het die wekker met sy verligte wysers saamgebring om te kan sien hoe eindeloos ver die nag nog strek?

‘n Mens sal nie regtig weet voordat die vinger wat daardie klokkie se knoppie druk jou eie is nie né! Maar wag nou, wag nou. Voordat ek oor oor sulke somber dinge begin tob, luister ek liewer weer na “Odnozvuchno gremit kolokolchik”. Sy “eentonige klokkies” voer jou ten minste mee, wek nie kwelvrae nie.

Die eerste klokhelder note klink op, en ek maak my klaar om my met vreugdevolle oorgawe aan dié verruklike musiek uit die verre Rusland te verlustig. Tot wederom.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page