top of page
  • Uitmelkbos

KLIPKOP, KOEBAAI


Die Honda gelaai soos nog nooit. Van links is Christopher, Thomas en Jacob Claassens, die laaimeester.


Seker so ‘n stuk of 60/70 keer in ‘n tydperk van twee dekades het die Honda (‘n 1999-model CR-V) die 500 km tussen OR Tambolughawe en Sabiepark heen en weer kafgedraf. Johannesburg was sy basis vir die Van D’s se bosvakansies. Sy staanplek was by Klipkop Car Care (in jare her bekend as Kempton Car Care).

Die reëling met Klipkop het gewerk. Altyd. Die oomblik as ons ons bagasie in die hande het, het ek op die selfoon laat weet. “Hier’s ons”. Die antwoord was altyd dieselfde: “Reg, Ons stuur hom om”. Dan gaan wag ons buite voor die aankomssaal vir binnelandse vlugte. Enkele minute later sou jy die Honda se neus in die aankomende lughaweverkeer herken.

Daarop kon jy reken. Soos klokslag was hy daar. Betroubare diens op sy beste.

Soos elke ding ‘n einde het, eindig ook daardie era nou. Gister met ‘n effense swaarmoedigheid vir Klipkop laat weet: “CY 7755 kom nie terug nie.” Sy nuwe basis is Nelspruit.

Darem makliker vir ‘n oumens om die 100 kilometer tussen die Kruger-Mpumalanga en Sabiepark af te zirts as om vyf uur lank in kwaai verkeer al die pad via Witbank, Middelburg, “Millies” (waar meermale brandstof laat intap is) Nelspruit, Witrivier en Hazyview agter die stuurwiel te sit – al kos dit ook meer.

Tot dusver kon ons Kulula of Mango vlieg op die hoofroete tussen die Kaap en Johannesburg. Vorentoe raak dit Link op ‘n streeksroete. Nogal ‘n aardige prysverskilletjie!

Vir Klipkop kan ek met vrymoedigheid aanbeveel aan enigiemand wat sy motor in Johannesburg wil laat berg. As jy gemoedrus soek, hier is jou antwoord.

Was ook altyd bereid om die spreekwoordelike “ekstra myl” te stap. ‘n Keer was daar ‘n krisis met ‘n skietding. Die betrokke lugdiens het ‘n absolute verbod. Klipkop is gebel en het vinnig opgedaag om te kom help. Presies hoe, gaan ek nie verklap nie. Netnou lees die Openbare Vervolger my blogs. Haar vinger is juis so op die sneller ….

‘n Keer wou Tokkie Klipkop bel. Sy druk toe die verkeerde nommer. Toe die man sy foon antwoord, vra sy: “Is dit Klipkop?” Die vreemde se spitsvondige antwoord: “Dalk – maar niemand het my nog so genoem ie!”

Die laaste koebaai-reis van OR Tambo af op 20 Junie was gedenkwaardig, soos dit by so ‘n spesiale geleentheid hoort. By ons was die drie Claassen-kleinkinders. Hul bagasie was nie wat ek as beskeie sou beskryf nie. Net Jacob se rugsak met kamerakatoeters het 28 kg geweeg. Elkeen se groot tas was ‘n meneer – so groot soos ‘n doodskis.

“Nooit sal ons daardie spul goed alles in die Honda kry nie. ” Die gedagte het die hele vlug in my kop bly maal.

Tokkie het reeds ‘n Plan B uitgwerk. Sy sou iewers op die lughawe ‘n koerier opspoor.

Maar eer aan Jacob. Hy het nooit getwyfel nie. En, waaragtig, alles is in.

Op Hazyview kon ons nog by Checkers proviand aanskaf. Nog net-net plek gevind vir Tokkie se boks wyn. Maar toe was my kar vol, glo my.

Nietemin, wat ‘n klimaks vir die Klipkop-era.

(Naskrif: Die Honda staan op 235 00 km. Behoort nog lank in diens te wees.)

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page