top of page

KLINK ‘N KAPPIE CAP CLASSIQUE!

Uitmelkbos

Lesers van hierdie gereelde episteltjie uit Melkbos, doelbewus of per ongeluk, sal dalk weet dat ‘n heel omvattende versameling afbeeldings van Tafelberg in Van Deventer-besit is. Met onse berg nou in die hoogste gestoeltes, hoog op die lys van die wonderlikste wêreld-wondere, droom ek oor ‘n oornagse toename in waarde van daardie nimlike versameling aan spykers teen die mure.

(Almal droom natuurlik van die een of ander geldelike bonanza. ‘n Ander persoonlike droom is dat die uitsig uit my voortuin op die wonderberg die prys van my en Tokkie se kaia hier in Penguin Place sal opper en opper jaag. Vandag hier meer ter sake is egter die toename in waarde van daardie versameling.)

Mense, ek is so optimisties dat ek dalk meneer Stephan Welz moet oornooi vir ‘n eksklusiewe private beoordeling. Moet onthou om dit in die dagboek aan te teken.

Iets meer oor daardie versameling. Laas het ek gepraat van drie “olies”. Een sou tipeer kon word as die een met die raaisel-boom. Die tweede se kleure-seleksie kan ietwat verwarrend wees vir ‘n te werklikheidsgebonde siel. Die derde, onvermeld in hierdie ruimte tot dusver, is uit die dae her toe Blouberg nog net ‘n bekoorlike stippeltjie was. Konserwatief, selfs volgens my eie standaarde.

Daar is ook twee waterverwe: ‘n groterige wat ongelukkig deur die ongenadige Wetseson ietwat geraps is, en ‘n kleintjie, uit die “ateljee” van vriend en oud-kollega Pierre van Manen. Pierre, weet ek, sou ewe beskeie insluiting van syne bevraagteken. Ek hou egter daarvan. Dit hang geraam in ‘n berg-kompilasie in die ingansportaal, en ek sit dit sommer hierbo ook dat julle kan sien of julle met my saamstem oor die meriete of nie.

Hoe ook al, as die waarde van my belegging in verf en rame skielik dramaties sou vuurpyl, soos ek vuriglik hoop, sou ek ‘n aansienlik minder bekommerde pensioentrekker wees. Laat die markte dan maar bolmakiesie slaan. Laat Malema –menigtes dan maar opruk en opneuk soos hulle lus kry. Teen my mure hang immers dan my en Tokkie se vliegkaartjies Boston toe en dies meer vir repatriasie na die skone Cape Cod, speelplek van die rykes in Massachusetts in New England. Ons vlieg sommer besigheidsklas wat!

Vir wie sou ek dan moet dankie sê? Natuurlik vir almal wat so mooi aangesmeer en gekom het, soos Johan van Wyk sou sê, toe hier kort duskant die stemtellery ‘n bepaalde paniek rondom die welslae van die berg se kandidatuur ontstaan het. Wat ‘n eindpoging sien ons toe nie.

Op RSG hoor ek vaneffe ‘n entoesiastiese bydrae uit Brackenfell oor die laerskool aldaar se patriotiese magsvertoon om hierdie groot vis vir die Moederstad, by wyse van spreke, ingekatrol te kry. Een kannetjie het 4 000 stemme uitgebring, word uit Brackenfell gespog. In ‘n klassie met klas het ‘n hele falanks 1000-talle met stemme glo op die organiseerders gereën.

Hoera dan vir die fladderende vingers en ruim begrotings vir selfoonkoste van my landgenote, oud en jonk. Vanaand klink ek ‘n glasie Cap Classique (nee, nie sommer net my gewone Nuy Sauvignon Blanc teen net oor die R30 per bottel nie!) op die berg, op al sy lojale ondersteuners wat onvermoeid hul Blackberrys, Nokias en so aan laat gons het … en natuuurlik op my nuutgevonde groter finansiele onafhanklikheid – as dit maar sou verwesenlik.

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page