Oor wyn moet jy versigtig skryf. Skryf jy te entoesiasties, kan wantrouiges maklik dink: “Aha, hier’s ‘n slang in die gras.” Skryf jy te neutraal (of veroordelend!), ontstaan die vermoede dalk jy’s ‘n opperste skynheilige.
Skryf jy of jy alles weet, kan dit ‘n eweneens wenkbroue laat wip. Mense kan begin skinder oor die bron van jou kastige kundigheid. Probeer jy te slim wees, gaan mense jou uitvang. Dis gewis, want werklike kenners kry jy soms op onverwagte plekke.
My tema is wyn, omdat die SA wynbedryf vandag presies 350 jaar oud is. Daarop wil ek graag met wyle Oom Jan van Riebeeck ‘n glasie klink. Ek lees vandag (Maandag 2 Februarie) in Die Waarheid (Die Burger) die Oom Jan het die volgende dagboekinskrywing presies 350 jaar gelede gemaak: “ Heeden is Gode loff van de Caapse druyven d’eerste maal wijn geparst.”
“Gode loff” – Wyse woorde. Want Wyn is … nou-ja wyn is wyn en wyn is Wonderlik. (Mooi nè: W vir Wyn. Vir die Waarheid, vir Wysheid en vir Wonderlikheid!)
In my “heildronk” by hierdie mylpaal in onse land se trotse wyngeskiedenis sal ek probeer probeer om die slaggate hierbo genoem te vermy.
Maar mag ek darem in het beginne sê dat die huidige bohaai hier in die Kaap oor drankverkope op Sondae my dronk slaan (as dit ‘n gelukkige woordkeuse is!)? Trouens, is dit nie skynheiligheid nie om op Sondae vroom die drankrakke toe te sluit, maar op Saterdae (en elke ander dag van die week) kan enigiemand arms vol voorraad vir Sondag se drinksessies koop?
Die deurlugtige 350ste verjaardag word ook gevier teen die agtergrond van ‘n ander nuusbrokkie. Ek lees naamlik dat mense nie minder “kuier” weens die geldknyp nie; hulle “kuier” nou net tuis. Supermarkte verkoop dus meer wyn en restaurante minder
Oor “kuier” by die huis, is my reaksie kort en kragtig: welkom in die klub. Om saans die son op jou eie stoep te sien ondergaan met ‘n glasie yskoue wit in die hand – dis mos die lewe, man. Daardie ontdekking het ek lankal gedoen.
Dit kos jou boonop baie minder, want baie restaurante beroof jou met hul hemelhoë wynpryse. . En kuier jy tuis, hoef ook nie huis toe te bestuur met die risiko om dalk die slagoffer van ‘n oorywerige verkeersman te word nie.
Dit van die hart af gekry, deel ek tog graag ‘n vermanende Nederlandse wysheid oor drank wat geraam in my kroeg op die rak staan, en wat nie totaal uit koers is nie – seker ook ten opsigte van die slordige (oormatige) gebruik van wyn.
Die titel is DE DRANK en dit bevat die volgende waarskuwings:
De drank
Brengt in armoede
Maakt twistgierig
Onbekwaam voor werk
Stoort den huis-vrede
Vernielt het ligchaam
Beroof van’t verstand
Verhard het hart
Leidt ze ziel in de hel!
Ja, soos hulle sê: Is te veel wyn in die man, is die wysheid in die kan! Laat ons dus maar matigheid voor oë hou, al verg dit soms vasbyt.
Ek het jare gelede by ‘n middagete langs ‘n bekende Kaapse wynmaker beland. Ek was toe kort in die Kaap en ‘n gretige student van die wynkultuur wat toe so 333 jaar oud was. Hoe op deeske aarde, wou ek weet, kry ervare Kapenaars dit reg om ‘n glasie wyn so talmend te geniet. Myne raak dan so vinnig leeg. Bestaan ‘n geheim hoe om stadiger te drink.
“Ja,” het hy ernstig geantwoord, “daar is inderdaad so ‘n geheim”.
“Vertel.”
“Dit bestaan uit net een woord – selfbeheersing!”
Maklik nie waar nie!
Comentarios